Selfs Hamilton is beïndruk met Verstappen se eindpoging

Max Verstappen. Foto: Twitter.

Lewis Hamilton het gister in Rusland sy 100ste wedren agter die stuur van ’n renmotor gewen. Dit is ’n verstommende vertoning deur die 36-jarige Brit en hy het sodoende weer die voortou op die jaerspunteleer geneem.

Maar op die een of ander geheimsinnige manier is Max Verstappen steeds kort op sy hakke; ’n toedrag van sake wat min by Mercedes waarskynlik voorspel het.

Die 23-jarige Nederlander het in die 20ste plek weggespring, maar hy het gaandeweg sy pad oopgeveg om uiteindelik tweede te eindig. Hy het terselfdertyd ook slim gedink om vroegtydig die kuipe te besoek toe dit begin reën het.

“Dit is ’n merkwaardige vertoning om van laaste na tweede te vorder. Hierdie Red Bull-renmotors is só vinnig,” het Hamilton ná afloop van die wedren aan Sky Sports gesê.

Volgens Hamilton het Verstappen gesorg dat hy nie veel skade op die punteleer gely het nie – daar is net ’n verskil van twee punte tussen die twee voorste renjaers.

Intussen is die internasionale media ook gaande oor die jong Nederlander se vertoning.

Die Duitse koerant Bild, het Verstappen se verbysteekvermoë met die legendariese Michael Schumacher sʼn vergelyk, terwyl Sky Sports meen dat hy as die grootste wenner uit die stryd getree het.

Die Red Bull-jaer was onder meer gestraf omdat sy renmotor met ’n splinternuwe enjin toegerus is, terwyl hy ook beboet is vir sy aandeel in die gebeure tydens die Italiaanse Grand Prix.

“Toe ek vanoggend wakker geword het, het ek glad nie gedink dat dinge só sou uitdraai nie,” het Verstappen gesê.

Christian Horner – Red Bull-spanbaas – is ook baie tevrede met die jong renjaer se vertoning in Rusland.

“Ons wou so min moontlik punte afstaan en dit voel nou vir ons asof ons eintlik gewen het. Om van die 20ste na die tweede plek te vorder is ’n groot prestasie.”

Die Turkse Grand Prix spring op 10 Oktober in Istanbul weg. Die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Aai

Hou dit daar welgedaan.

Jackie

Go Max..