Selfs met seer maagspier, is Djokovic steeds ’n tennistier

Novak Djokovic. Foto: William West/AFP.

Die wêreld se voorste manstennisspeler, Serwië se Novak Djokovic, speel vandag in die kwarteindstryd van die Australiese Ope teen die jong Duitser Alexander Zverev.

In Djokovic se visier: sy negende Aussie Ope-titel.

Maar sy opmars tot ’n moontlike eindstryd is allesbehalwe maklik. Hy het moontlik ’n maagspier in sy derderondekragmeting teen Taylor Fritz geskeur. Die 33-jarige het egter vasgebyt om die wedstryd met 7-6, 6-4, 3-6, 4-6 en 6-2 te wen.

Nodeloos om te sê het hy self erken dat hy die tweestryd vir ewig sal onthou.

Dan het hy ook ’n vurige aanslag van Milos Raonic deurstaan om in vier stelle vir die kwarteindstryd te kwalifiseer. Dit was Djokovic se 300ste sege in ’n Grand Slam-toernooi.

“As dit enige ander toernooi was, sou ek beslis nie verder gespeel het nie. Maar in hierdie stadium van my loopbaan beteken ’n Grand Slam vir my ongelooflik baie en ek wil my heel beste op die baan gee,” het Djokovic gesê.

Hy mag dalk nie die gewildste speler ooit wees nie, maar hy is ongetwyfeld lief vir die sport, terwyl hy oor bakkievragte deursettingsvermoë beskik.

Op sy beurt het Zverev nie doekies omgedraai nie – hy weet dat die Serwiër steeds ’n gedugte teenstander sal wees; selfs met ’n besering.

“Ons speel op sy gunstelingbaan [Rod Laver] van sy gunstelingtoernooi. ’n Mens sal baie goeie tennis moet speel om ’n kans te staan,” het Zverev gesê.

Die 23-jarige Duitser het al twee keer vantevore met Djokovic afgereken: in 2017 by die Meestersreeks in Rome en in die ATP Finals-toernooi in 2018.

Intussen het Japan se Naomi Osaka vir die halfeindstryd gekwalifiseer toe sy met Taiwan se Hsieh Su-wei klaargespeel het.

Die eindtelling was 6-2 en 6-2 in Osaka se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.