Serena (39) uit Amerikaanse Ope

Serena Williams sal die Amerikaanse Ope met ’n besering misloop. (Foto: Kin Cheung, AP Foto)

Serena Williams sal ook nie deel van die Amerikaanse Ope-aksie in New York wees nie.

Die 39-jarige wenner van 23 Grand Slam-titels het op Instagram gesê dat sy nog nie voldoende van ’n dyspierbesering herstel het nie.

“Ek het ná deeglike oorweging en raad van my mediese span besluit om my aan die Amerikaanse Ope te onttrek om heeltemal van die besering te herstel. New York is een van my gunstelingplekke om te speel en ek sal ongetwyfeld die toeskouers mis,” het Williams geskryf.

Die Amerikaanse ster was Junie laas op die internasionale verhoog toe sy Wimbledon in trane verlaat het.

Williams was toe in aksie teen Aliaksandra Sasnovich in haar openingswedstryd. Sy het met 3-1 in die eerste stel voorgeloop voordat sy gegly en haar regterbeen beseer het.

Nadat sy mediese behandeling ontvang het, het sy nog vir ’n pot of twee voortgeveg, maar met die telling op 3-elk die handdoek ingegooi. Dit was die eerste keer in 20 Wimbledon-toernooie dat sy nie verder as die eerste ronde gevorder het nie.

Serena Williams. Foto: Al Bello/Getty Images/AFP

Die Australiese Ope van 2017 was haar laaste Grand Slam-titel en sy sal nou tot 2022 moet wag om Margaret Court se rekord van 24 titels te ewenaar.

Ion Tiriac, ’n skatryk Roemeense sakeman en voormalige tennisspeler, het in Januarie haar ouderdom en gewig gekritiseer.

“Serena is ’n wonderlike speler, maar sy moes nou al haar uittrede aangekondig het as sy die ordentlikheid gehad het,” het die 81-jarige aan ’n Roemeense televisiestasie gesê.

Roger Federer (knie), Rafael Nadal (voet) en Dominic Thiem (gewrig) sal ook die Amerikaanse Ope met beserings misloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.