Serena sê Roger is die beste ooit

Roger Federer. Foto: Twitter.

Roger Federer maak gereed om sy tweede toernooi van die jaar te speel wanneer hy vandag in die Genève-ope afslaan.

En volgens Serena Williams is die 39-jarige Switserse tennisster die beste speler ooit.

“Hy versinnebeeld styl op ’n tennisbaan en het amper eiehandig die spel verander. ’n Mens sien gereeld hoe ander spelers sy tegniek probeer naboots,” het Williams gesê.

“Jy sukkel om nie van hom te hou nie en in my oë is hy die beste speler ooit. As ek maar net soos hy kon speel!”

Intussen sien Federer uit om sy raket weer in ’n toernooi te swaai nadat ’n paar knieoperasies hom lank uit die spel gehou het. Benewens die Genève-toernooi, wil hy ook onder meer poog om by die Franse Ope, Wimbledon en die Olimpiese Spele in aksie te wees.

Tog het hy gewaarsku dat sy spel nie nou al op dieselfde vlak as Rafael Nadal of Novak Djokovic – wat pas in die eindstryd van die Italiaanse Ope in Rome rakette gekruis het – sal wees nie.

“Ek is opgewonde oor my terugkeer en dit is waarop ek nou sal moet fokus; en nie om soos Rafa en Novak te probeer speel nie,” het Federer gesê.

Hy is terselfdertyd ook beïndruk met die spel van jong spelers soos Daniil Medvedev, Alexander Zverev, Dominic Thiem en Stefanos Tsitsipas.

“Ek verwag dat hulle almal intussen beter geword het omdat hulle nou soveel meer ervaring het. Dit gaan ongetwyfeld ’n taai uitdaging wees om weer tussen die beste spelers te tel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese

Beide ego’s het geen gelyke en behoort hul nog ‘n rukkie voort te dryf.

Bertus

Suur druiwe.