Serena verlaat baan in trane

Serena Williams. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Op 39-jarige ouderdom het Serena Williams vanjaar nog daarvan gedroom om haar agtste Wimbledon-titel in te oes. Tog het daardie droom gister in trane geëindig toe sy haar weens ’n besering aan die toernooi moes onttrek.

Die Amerikaner was in aksie teen Aliaksandra Sasnovich in haar openingswedstryd en sy het met 3-1 in die eerste stel voorgeloop voordat sy gegly en haar regterbeen beseer het.

Nadat sy mediese behandeling ontvang het, het sy nog vir ’n pot of twee voortgeveg, maar sy het met die telling op 3-elk die handdoek ingegooi.

Sy het later in ’n plasing op haar amptelike Instagram-rekening die toeskouers en haar span vir hul ondersteuning bedank.

Dit was die eerste keer in 20 Wimbledon-toernooie dat sy nie verder as die eerste ronde gevorder het nie en gister se terugslag moet veral ’n bitter pil wees om te sluk. Met Naomi Osaka en Simona Halep wat reeds vóór die toernooi aangedui het dat hulle nie deel van die aksie sal wees nie, was sy ongetwyfeld een van die gunstelinge om met die louere weg te stap.

Williams het laas in 2017 ’n Grand Slam-titel gewen toe sy die Australiese Ope-trofee omhoog gehou het en talle kenners meen dat die horlosie ook nie vir haar stilstaan nie.

Ion Tiriac, ’n skatryk Roemeense sakeman en voormalige tennisspeler, het in Januarie haar ouderdom en gewig gekritiseer.

“Serena is ’n wonderlike speler, maar sy moes nou al haar uittrede aangekondig het as sy die ordentlikheid gehad het,” het die 81-jarige aan ’n Roemeense televisiestasie gesê.

“Op haar ouderdom en weens haar gewig beweeg sy beslis nie meer so maklik op die baan soos wat sy 15 jaar gelede gedoen het nie.”

Nodeloos om te sê het Tiriac se kommentaar ’n storm op sosiale media ontketen en Williams se man, Alexis Ohanian, het vir sy vrou in die bresse getree.

“Dit is 2021 en ek gaan nie stilbly wanneer ’n rassistiese en seksistiese nar my gesin aanval nie. Ek dink dit is veilig om te sê dat niemand omgee wat Ion Tiriac dink nie,” het Ohanian op Twitter geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter ·

Snaaks hoe enigiemand wat ‘n opinie gee waarvan hulle nie hou nie skielik rassisties is en sommer ook seksisties. Wat het geword van gesonde redenasie en om iemand verkeerd te bewys met feite? Hy praat van haar ouderdom en gewig, nie geslag en ras nie. Niemand is rassisties wanneer hulle na Federer se ouderdom verwys nie…….oor sy kleur

Moedeloos ·

Nou wonder ek skielik wat het van die wedstryd tussen Federer en sy opponent geword nadat laasgenoemde ook gister gegly en sy knie beseer is. Ek het nie verder gekyk of die wedstryd voltooi is nie. Daai baan lyk regtig glibberig want hoevele spelers het net die afgelope paar dae daar erg gegly.

Elinette ·

Ek sien niks rassisties of seksisties omtrent mnr. Tiriac se opmerking nie. Hy het mos nie enige afbrekende woorde gebruik nie, het hy? As hy nou die woord N****r gebruik het, was dit ‘n ander saak, maar hy het net na Williams se ouderdom en groot boude verwys.

Alta ·

Serena Williams was/is een van die beste tennisspelers wat die wereld opgelewer het. Wimbledon sal iets moet doen met hul bane. Baie van die spelers het gegly en seer gekry. Roger Federer was “baie gelukkig” dat sy openent onttrek het van sy besering na hy ook gegly het. Verder is dit fantastiese tennis!

Vrijburger ·

Nou nie ‘n persoonlikheid wat baie simpatie by my wek nie.

marius ·

Die opmerking is nie rassisties of seksisties nie . Hou op om ras en geslag voor elke ding te gooi !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.