Serwië plant die uitklop-kishou teen Suid-Afrika

Kevin Anderson. Foto: Twitter via @Wimbledon

Serwië het weliswaar al drie hul ATP-wedstryde teen hul Suid-Afrikaanse teenstanders in Brisbane gewen, maar Kevin Anderson-hulle het die hoogsaangeskrewe Europeërs by tye behoorlik laat sweet.

Die jong en talentvolle Lloyd Harris het eerste op die baan gestap en sterk teen die wêreld se 34ste beste speler, Dušan Lajović, vertoon.

Die Suid-Afrikaner het die eerste stel met 6 – 3 gewen, maar die Serwiër het stelselmatig die oorhand begin kry om die kragmeting uiteindelik met 3 – 6, 7 – 6 en 6 – 3 te wen.

“Teen die einde was dit ’n baie taai stryd. Ek voel ek het goed weggespring en het lekker momentum in die eerste stel gehad. Trouens, ek het tot in die helfte van die tweede stel heel in beheer van dinge gevoel,” het Harris gesê.

Lloyd Harris. Foto: Facebook.

Op sy beurt het Lajović in die mediakonferensie ná die wedstryd gesê dat hy agtergekom het dat die Suid-Afrikaner moeg begin word. Die Serwiër het slim begin speel en Harris op die baan begin rondjaag.

Dan het Kevin Anderson gesorg dat Novak Djokovic harde bene in die tweede enkelspelstryd kou.

Anderson, wat lank weens ’n kniebesering buite aksie was, het moedig teen die tweede beste speler ter wêreld geveg.

Albei stelle is deur valbylstryde beslis en die Serwiër het uiteindelik met 7 – 6 en 7 – 6 geseëvier.

In dubbelspelaksie het Raven Klaasen en Ruan Roelofse met 6 – 3 en 6 – 2 verloor.

  • Die Suid-Afrikaners speel môre teen Chili.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.