Seun van All Blacks-legende laat All Whites glimlag

Niko Kirwan vier sy wendoel. Foto: Twitter.

Sir John Kirwan het in sy speeldae gehelp dat die All Blacks die Webb Ellis-trofee in 1987 omhoog hou.

Sy seun, Niko, het weliswaar nie in sy pa se rugbyvoetspore gevolg nie, maar hy beskik ongetwyfeld oor dieselfde vermoë om in drukkoker-situasies te presteer.

Die 26-jarige Niko het in skaars sy tweede wedstryd vir die All Whites (Nieu-Seeland se sokkerspan) vir die wendoel gesorg om Bahrein met 1-0 te klop.

Hy het sy doel in die 89ste minuut van die kragmeting aangeteken.

“Ek was baie opgewonde toe ek hoor dat ek deel van die span is en ek wou baie graag vir Danny Hay (afrigter) wys wat ek op die veld kan doen. Ek het egter nooit daaraan gedink dat ek die wendoel sou aanteken nie,” het die opgewonde sokkerspeler gesê.

Daar was vroeër sprake dat die Nieu-Seelandse sokkerbase die All Whites-bynaam wil skrap omdat dit dalk deur sommiges as nie inklusief genoeg bestempel word nie.

“As deel van ons volhoubaarheidsprojek wat verlede jaar van stapel gestuur is, is ons besig om met belanghebbendes na alle dele van die organisasie te kyk om seker te maak dat dit voldoende is vir 2021 en daarna,” het Andrew Pragnell, uitvoerende hoof van die nasionale sokkerbeheerliggaam, destyds gesê.

Die beplande naamsverandering het egter kwaai teenkanting gekry en dit is onder meer as “absolute malligheid” bestempel.

“Die naam is deur ondersteuners uitgedink omdat die span in wit speel. Dit is soos die Boston Red Sox – hulle dra rooi sokkies. Die All Whites dra wit T-hemde. Dit is al,” het Jason Pine (joernalis) getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Filistyn ·

Tog so jammer om verplig te voel om verskoning te vra sodra die woordjie “wit of white” iewer voorkom.

MakersMark ·

Nog een met ‘n man bolla. Hemel die mans verwyf baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.