Shadine en Karla: Thunder en Lightning

Karla Pretorius. Foto: Twitter.

Karla Pretorius, Suid-Afrika se bobaas-netbalspeler, sal volgende jaar weer vir die Sunshine Coast Lightning in die Australiese Suncorp Super Netball-liga speel.

Die talentvolle verdediger is vir drie agtereenvolgende seisoene as die klub se speler van die jaar aangewys, terwyl sy vanjaar ook die span op die baan aangevoer het.

Nodeloos om te sê, is Kylee Byrne (hoofafrigter) in haar skik dat Pretorius weer eens in Lightning-kleure sal speel.

Volgens die Queensland-boorling is Pretorius ’n speler wat altyd haar beste gee, terwyl sy ook haar spanmaats inspireer om haar voorbeeld op die baan te volg.

“Hoewel sy ’n baie gedissiplineerde speler is, is sy ’n baie toeganklike persoon wat tyd vir almal het,” het Byrne gesê.

Sy het die Suid-Afrikaner ook bedank vir die opoffering wat sy maak om jaarliks weg van haar gesin vir die Lightning-span te speel.

Op haar beurt sien Pretorius uit na die avonture wat 2022 inhou.

“Ons is ’n hegte groep wat met elke seisoen wil verbeter; ek glo dit is waarom die klub so spesiaal is. Die afgelope twee seisoene het dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie en ek sal alles in my vermoë doen om saam met my spanmaats in die eindstryd te speel,” het Pretorius gesê.

Shadine van der Merwe (links). Foto: Verskaf.

Intussen sal Shadine van der Merwe volgende jaar haar netbal vir die Manchester Thunder in Engeland speel.

Die gewilde Protea-speler was die afgelope drie seisoene in aksie vir die Adelaide Thunderbirds in Australië. Sy was onlangs met die toekenning as die spelers se speler van die jaar beloon.

Tracey Neville, die voormalige Engeland-speler, is deesdae deel van die Manchester-span se afrigterskorps en sy sien daarna uit om saam met Van der Merwe te werk.

“Shadine is ’n speler wie se spel ek al vir ’n geruime tyd bewonder. Sy is ’n superslim verdediger en sal uitstekend by ons span pas,” het Neville gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.