Shadine soek Statebond-glorie saam met Proteas

Shadine van der Merwe. Foto: Verskaf.

Trofees en medaljes.

Dít is Shadine van der Merwe se blitsige en doodeerlike antwoord toe sy oor haar Protea-netbaldoelwitte uitgevra is.

Die Statebondspele is immers om die draai en die Suid-Afrikaanse netbalspan is oorgehaal om met ’n stewige vertoning in Birmingham vorendag te kom.

“Ek is ongelooflik opgewonde om my land op die groot verhoog te verteenwoordig; ’n mens kan amper nie glo dat die internasionale skouspel net ’n paar maande weg is nie,” het Van der Merwe gesê.

Volgens die talentvolle verdedigende vleuel (VV) moet die Protea-aanslag nie onderskat word nie.

“Ons word gereeld as die buiteperd-span beskou, maar ons kan tot die laaste minuut van ’n wedstryd bly veg. Daar word tans oefenkampe in Suid-Afrika gehou en dit is goed as die spelers gereeld byeenkom om hulle vir die Spele voor te berei.”

Shadine van der Merwe en Lenize Potgieter. Foto: Twitter.

Die afgelope vierhoekige reeks in Londen – waar die Proteas teen sterk netballande soos Australië, Nieu-Seeland en Engeland kragte gemeet het – is ook van onskatbare waarde vir hul medalje-aanslag.

Toegegee, die Suid-Afrikaners kon nie daarin slaag om een wedstryd te wen nie, maar hulle het met elke probeerslag beter gespeel.

Bongi Msomi en haar spanmaats het hul beste vertoning vir laaste gelos toe hulle die Kiwi’s ordentlik op die baan skrikgemaak het.

“Die afrigterspan kon sien hoe die spelers met die bestes ter wêreld vergelyk, terwyl die groep nou ook op hul sterk punte kan voortbou en op die swak punte kan verbeter.”

Van der Merwe weet ongetwyfeld ook hoe om goeie vertonings te lewer.

Buiten die waardevolstespeler-trofee van die 2019-reeks teen Engeland wat in haar vertoonkas pryk, was daar al talle trotse oomblikke op die baan: Haar Gauteng Jaguars het al vir drie agtereenvolgende eindstryde in die Brutal Fruit-reeks gekwalifiseer, terwyl hulle in hul vierde probeerslag met die silwerware weggestap het.

Foto: Verskaf.

Sy speel deesdae haar eersterangse netbal vir Manchester Thunder in Engeland en hoewel sy steeds met rehabilitasiewerk ná haar knieoperasie in September besig is, kan sy nie wag om weer te speel nie.

“Die span het al vier wedstryde agter die blad en ons is tans eerste op die punteleer – dit is ’n lekker dinamiese groep met sterk spelers. Terselfdertyd leer ek ook baie by die afrigters hier.”

Die ervaring wat sy by oorsese spanne opdoen, sorg dat sy beslis ’n beter speler vir Suid-Afrika is.

“Netbal het ongelooflik in Suid-Afrika gegroei en dit is wonderlik dat ons nou teen die bestes in die wêreld kan meeding. Ons moet nog net aan die finale afrondingswerk skaaf om daar ook die naelbytoomblikke te wen, maar ek glo ons is op die regte pad.”

Van der Merwe het in ’n vorige onderhoud gesê dat sy na 100 toetse vir die Proteas mik.

“Ek wil eendag nie net as ’n goeie speler onthou word nie, maar ook as ’n goeie mens. Ek het ’n ongelooflike passie vir netbal en is baie dankbaar dat die Here vir my die talent gegee het sodat ek daagliks my passie kan uitleef. Ek wil onthou word as ’n speler wat die beste vir haar spanmaats gegee het, as iemand wat die gang van ’n wedstryd kon verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.