Shapovalov volgende in Harris se visier

Suid-Afrika se Lloyd Harris is deur na die derde ronde van die Amerikaanse Ope. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.

Lloyd Harris, Suid-Afrika se voorste manstennisspeler, het vir die eerste keer in sy loopbaan na die derde ronde van die Amerikaanse Ope deurgedring toe hy vir Ernesto Escobedo met 6-4, 6-4 en 6-2 in New York geklop het.

Die 24-jarige Kapenaar sal nou môre teen Kanada se Denis Shapovalov te staan kom; ’n speler wat hy vroeër vanjaar in Dubai met 6-7, 6-4 en 7-6 geklop het.

Tog sal die 22-jarige Kanadees, wat in Israel gebore is, nie sommer kanonvoer wees nie. Shapovalov is tiende op die wêreldranglys, terwyl hy nog nie ’n stel in sy eerste twee wedstryde in New York afgestaan het nie.

Maar Harris speel van die beste tennis van sy loopbaan en as hy reeds een keer met Shapovalov afgereken het, kan hy dit beslis weer ’n keer doen.

“Ek speel tans met baie selfvertroue en ek wil aanhou om goeie tennis in Amerika te speel,” het die Suid-Afrikaner op die vooraand van die New Yorkse toernooi gesê.

Sy vurige afslane was oudergewoonte weer een van sy sterkpunte in die Escobedo-kragmeting en hy het 21 kishoue afgestuur, terwyl hy ook baie punte met sy eerste afslaan gewen het.

Intussen het Novak Djokovic ook verspot maklik na die derde ronde van die toernooi deurgedring toe hy vir Tallon Griekspoor met 6-2, 6-3 en 6-2 ore aangesit het.

Die 34-jarige Serwiër wil sy vierde Grand Slam-titel van die jaar verower om Rod Laver se prestasie van 1969 te ewenaar. Hy speel volgende teen Japan se Kei Nishikori.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.