Simona Halep stamp Serena Williams van haar troon

Die wenner Simona Halep van Roemenië (links) en die Amerikaner Serena Williams (13 Julie 2019) (Foto: AP Photo/Tim Ireland)

Simona Halep hoef nooit weer soos die strooimeisie op Wimbledon te voel nie.

Die 27-jarige Roemeen het Saterdagmiddag in Londen in ʼn eensydige eindstryd van die vroue-enkelspel die 37-jarige Serena Williams van die VSA met 6-2, 6-2 van die baan gevee.

Die kragmeting het net 55 minute geduur. Halep het net drie ongedwonge foute begaan teenoor Williams se 25, Halep het met 34 van haar 45 eerste afslane die kolf getref teenoor Williams se 32 uit 47 afslane. Sy was briljant, Williams platgeslaan, uitgetel.

Die Roemeen, wat dikwels in die verlede daarvan beskuldig is dat sy nie sielkundig gestaal is om groot toernooie te wen het, dat sy ondanks al haar talent nooit haar volle potensiaal bereik nie, die wysneuse binne ʼn uur verkeerd bewys. Dit was haar eerste titel op Wimbledon nadat sy in 2018 ook die Franse Ope gewen het. En nou kan sy boonop met meer as £2,98 miljoen (meer as R52 miljoen) in haar bankrekening spog!

Williams, wat reeds sewe keer op Wimbledon baas was en voor Saterdag in nog drie ander eindstryde betrokke was (maar vasgeval het), is dus steeds op soek na haar ontwykende 24ste Grand Slam-oorwinning. Dit sou haar by die Australiese legende Margaret Court (24 oorwinnings) laat aansluit het, wat dit tussen 1960 en 1973 vermag het.

Maar kom ons wees eerlik, suiwer geoordeel op Saterdag se vertoning, moet ʼn mens die vraag stel of sy op 37-jarige ouderdom by die magiese 24 oorwinnings gaan uitkom. Jare lank het Williams vroue-tennis aan die gorrel geruk. Jare lank het die ander spelers in haar skaduwee beweeg, maar nou hoef hulle nie meer die ander wang te draai nie.

Dit het gelyk asof Vader Tyd haar ingehaal het, of sy nie meer vinnig genoeg kan beweeg nie, en of haar fiksheid nie meer na wense is nie. Dit was ook haar derde nederlaag in ʼn eindstryd in die afgelope 12 maande. Dit was half pynlik om te sien hoe Williams binne 26 minute in die eerste stel boedel oorgegee het. Dit was pynlik om te sien hoe sy verkrummel het toe Halep in de vyfde pot van die tweede stel deurgebreek het om dit 3-2 in haar guns te maak.

Maar alle eer moet aan Halep gaan. Sy het gedoen waaroor al die ander spelers droom. Sy het wasdom bereik, sy het die tenniswêreld nou aan haar voete, sy het die koningin van vroue-tennis van haar troon gestamp.

Sjoe, ’n mens kan maar net bly wees dat jy nie R3 246 vir ʼn kaartjie op die hoofbaan vir minder as ʼn uur se vermaak opgedok het nie!

  • Roger Federer en Novak Djokovic kom Sondagmiddag om 15:00 teen mekaar te staan in die Wimbledon-manseindstryd. Federer het Vrydag Rafael Nadal uitgeskakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Valerie

Baie mooi gedoen. Na Serena se baba-agtige tantrum by verlede jaar se VSA Ope, het ek regtig gehoop sy wen nooit weer iets nie. Haar gedrag was van die swakste in moderne tennis geskiedenis.
En Halep straal sommer so.

Eetbeet

Baie geluk . Mooi game

Rinkhals

Uitstekend. Europa bo !!!

Kokkie

Skitterend, Simona. Jy’s my champ!

Ronel

Dit was lekker om te kyk. Ekt elke keer wat Haleb deurgebreek het of n goeie punt aangeteken het, gecheer asof sy my kon hoor