Sinner se droomlopie duur voort

Italië se Jannik Sinner spog met sy nuutste trofee. (Foto: Sander Koning/ANP/AFP)

Dit lyk nie of Jannik Sinner se momentumtrein binnekort ontspoor sal word nie. Die 22-jarige speler is ook nou die tenniskampioen van Rotterdam nadat hy vir Alex de Minaur met 7-5 en 6-4 om die silwerware geklop het.

Dit was sy 15de oorwinning op ʼn streep en die triomftog beteken dat hy nou die derde plek op die amptelike ATP-ranglys gaan inneem; ʼn eerste vir ʼn Italiaanse speler.

Sinner het sy Australiese teenstander nou met sy aggressiewe en suiwer houespel oordonder en hy het 23 wenhoue geslaan om die wedstryd in net meer as twee uur te beklink.

Volgens die Australiese Ope-kampioen – hy het in Januarie sy eerste Grand Slam-titel in Melbourne ingeoes – het sy span hulself weer goed van hul taak gekwyt.

“Ek is baie trots op my vertonings. Ons was in ʼn paar moeilike situasies en ons het dit op die regte manier hanteer. Tog sal ek altyd probeer om te verbeter; dit is vir my een van die belangrikste aspekte van die spel,” het Sinner gesê.

Benewens sy 15 oorwinnings op ʼn streep kan die Italianer ook met nog ʼn bietjie lekkerleesstatistieke op sy getuigskrif sorg: Hy het 32 van sy laaste 34 wedstryde gewen en hy het in dié tyd net teen Ben Shelton en Novak Djokovic verloor.

Diaz Acosta wen in Argentinië

In Buenos Aires het Facundo Diaz Acosta met Nicolas Jarry in die eindstryd van die Argentynse Ope klaargespeel.

Die eindtelling was 6-3 en 6-4 in die 23-jarige promotorskeuse se guns.

“Ek kan skaars my oë glo – ek droom al geruime tyd oor dié oomblik en ek het baie hard gewerk om tot hier te kom,” het Diaz Acosta gesê toe hy die trofee in ontvangs geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.