Sinner weer aan trofeewenkant

Jannik Sinner is die Miami-opekampioen. (Foto: Brennan Asplen/Getty Images via AFP)

Nadat Jannik Sinner in 2021 en 2023 in die eindstryd van die Miami-ope verloor het, kon hy nou die bordjies verhang met sy oorwinning teen Grigor Dimitrov.

Die jong Italianer het sy Bulgaarse teenstander met 6-3 en 6-1 oorrompel om die silwerware omhoog te hou.

Die Australiese Ope-kampioen het sy derde titel van die jaar ná net meer as ʼn uur se spel ingeoes.

Sinner het 15 wenhoue in die eindstryd gemoker en hy sal nou die tweede plek op die amptelike ATP-ranglys beklee.

“Ek probeer om nie te ver vooruit te dink nie; ek wil net op die volgende punt konsentreer. Ja, ek wil die heeltyd verbeter, maar ek wil ook die wedstryd geniet. Dié oorwinning is beslis ʼn spesiale oomblik in my loopbaan,” het die Italiaanse ster gesê.

Die kleibaanseisoen is om die draai en Sinner sal ook oorgehaal wees om sy stempel op die komende toernooie in Monte Carlo en Parys af te druk.

“Ek gaan my oorwinning vir ʼn dag of so geniet, maar dan moet ek gereed maak vir die volgende hoofstuk van die tennisjaar. Om op kleibane te speel is ʼn splinternuwe uitdaging en ons sal maar moet sien hoe dinge uitdraai.”

Volgens Darren Cahill is die toekoms van tennis in goeie hande.

“As ʼn mens na die spel van Jannik en Carlos (Alcaraz) kyk, lyk tennis se pad vorentoe glad nie sleg nie. Hulle kan as’t ware die aflosstokke by sterre soos Novak Djokovic en Roger Federer oorneem,” het Sinner se Australiese afrigter gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.