Sinner wen sy groep, Djokovic ook in semi’s

Italië se Jannik Sinner het sy groepfase van die ATP-eindronde onoorwonne afgesluit. (Foto: Tiziana Fabi/AFP)

Jannik Sinner se vuurwarm spelpeil in Turyn beteken dat hy sy ATP-eindrondegroep gewen het. Die 22-jarige Italianer het Holger Rune met 6-2, 5-7 en 6-4 geklop om vir die halfeindstryd van die toernooi te kwalifiseer.

Volgens Sinner was dit vir hom belangrik om sy konsentrasie te behou – veral nadat hy vroeër ʼn barshou teen Novak Djokovic gespeel het.

“Ek kon nog nooit vantevore met Rune afreken nie en ek het nou werklik my bes gedoen. Ek het ʼn baie goeie aanloop tot die wedstryd geniet, maar sy afslaanwerk het aansienlik in die tweede stel verbeter terwyl die beslissende stel enige rigting kon geswaai het,” het die jong Italianer gesê.

“Dit was ʼn wafferse tuimeltreinrit om tot hier te kom, maar ek is baie dankbaar om in die halfeindstryd te wees.”

Sy goeie vertoning het ook toegesien dat Djokovic vir die uitklopwedstryde kon kwalifiseer – as hy teen Rune verloor het, sou die Serwiër nie deurgedring het nie.

Djokovic het op sy beurt vir Pole se Hubert Hurkacz met 7-6, 4-6 en 6-1 in sy finale groepkragmeting geklop en ʼn sewende ATP-eindrondetitel is nou in sy visier.

Uitslae:

Jannik Sinner klop Holger Rune met 6-2, 5-7 en 6-4

Novak Djokovic klop Hubert Hurkacz met 7-6, 4-6 en 6-1

Vandag se bepalings:

Carlos Alcaraz teen Daniil Medvedev

Andrey Rublev teen Alexander Zverev

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.