Sir Jackie: ‘Hamilton g’n die beste’

Sir Jackie Stewart. (Zsolt Czegledi/MTI via AP)

Dit is seker met tye ’n uitdaging om Lewis Hamilton te wees. Want dit maak nie saak – en hierdie stelling is vanuit ’n suiwer sportoogpunt – hoeveel wedrenne hy wen nie, mense sukkel om die etiket as die beste ooit om sy nek te hang.

Die 35-jarige Brit is gereed om die legendariese Michael Schumacher se rekord vir die meeste F1-loopbaanseges (91) te ewenaar wanneer hy hierdie Sondag by die Duitse Grand Prix wegtrek.

Maar, sê sir Jackie Stewart, hy sal nooit as die beste gereken word nie omdat sy motor vir hom ’n onregverdige voorsprong besorg.

Hamilton en die 81-jarige vlieënde Skot het al vantevore om meer politiese redes swaarde gekruis, toe die Mercedes-renjaer vir Stewart as “onkundig” bestempel het.

Nou het Stewart weer ’n salvo van sy eie afgevuur en gesê dat die Mercedes-enjin vir Hamilton ’n onregverdige voorsprong bó sy tydgenote gee.

Lewis Hamilton. (Albert Gea via AP)

“Moet my nie verkeerd verstaan nie, Lewis kan ongelooflik goed bestuur en ek kraak geensins sy vaardighede agter die stuur af nie,” het Stewart gesê.

Volgens Stewart het renjaers soos die Argentyn, Juan Manuel Fangio, amper iets soortgelyks as Hamilton vermag, maar hy het nooit lank by dieselfde motorvervaardiger gebly nie.

“Lewis het ’n baie goeie besluit geneem toe hy McLaren vir Mercedes verlaat het. Ek haal trouens my hoed vir hom daaroor af. Maar om eerlik te wees, die Mercedes-enjin is tans só superieur dat dit amper onregverdig is.”

“Dit is moeilik om vir só ’n renjaer dieselfde respek te hê as vir iemand wat amper iets soortgelyks met ’n swakker motor vermag het.”

Stewart meen dat Fangio die beste bestuurder ooit is, gevolg deur Jim Clark en Ayrton Senna. Dit is egter ook moeilik om renjaers uit verskillende eras met mekaar te vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rudolf ·

Ek stem ook saam. Die toets is om met `n minderwaardige motor te presteer.

Jackie ·

Dt is amper onmoontlik om nie te wen met die mercedes nie.

Vonkprop ·

Ek stem 100% saam, maar nou is my vraag hoekom is die ander renmotors dan so “sleg”? Ferrari ens. kan tog seker beter enjins vervaardig. Dit is nie Mickey Mouse vervaardigers nie so hoekom sukkel die ander dan so? Ek dink Mercedes het net dinge ontrafel en hulle weet net wat om te doen. Sal goed wees om te sien hoe die renjaers gaan doen as almal dieselfde motor en enjin het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.