Sir-skap vir Hamilton kry meer momentum

Lewis Hamilton. Foto: Twitter.

Volgens die Britse media is Lewis Hamilton se belastingsake in orde en hy sal volgende jaar tot ridder geslaan word.

Die 35-jarige renjaer het tydens verlede week se Turkse Grand Prix die legendariese Michael Schumacher se rekord van sewe wêreldtitels geëwenaar.

Maroela Media het vroeër berig dat Hamilton steun in die parlement geniet en sir Jeffrey Donaldson, voorsitter van die All-Party Parliamentary Group on Formula 1, het gesê dat die tyd reg is om die renjaer tot ridder te slaan.

“Ons steun die beweging dat Lewis Hamilton nasionale erkenning vir sy ongelooflike sportprestasies moet ontvang. Te midde van sy wonderlike jaar glo ons dat dit die regte tyd is om dit te doen,” het Donaldson gesê.

In ’n brief aan Boris Johnson, die Britse eerste minister, het die groep geskryf dat Hamilton een van die Verenigde Koninkryk se sterre is.

Maar Hamilton, wat in Monaco woon, se belastingsake was al onder die loep. Sy persoonlike rykdom is na raming £250 miljoen (R5,1 miljard) en sommige Britte was krities oor die belastingstatus wat hy in dié Europese land geniet.

Volgens The Sun is die Mercedes-renjaer egter een van die 5 000 top-belastingbetalers in die Verenigde Koninkryk, terwyl die Daily Mail bevestig het dat ’n regeringskomitee Hamilton se belastingsake die groen lig gegee het.

Op sy beurt het Hamilton ook al na sy kritici gekap.

“Ek is reg oor die wêreld in aksie en verdien my geld in 20 verskillende lande. Ek betaal belasting op verskillende plekke, maar ook in Brittanje,” het hy gesê.

“Ek betaal my belasting en dra by tot die land se ekonomie. Daarbenewens help ek ook dat ’n span van meer as ’n duisend mense ’n werk het.”

Hamilton is reeds met ’n MBE (Member of the British Empire) vereer en in ’n vorige onderhoud met die BBC het hy gesê dat dit ’n reuse-eer sal wees indien hy die koningin weer sou kon  ontmoet.

“Net soos almal is ek mal oor die koninklike gesin en dit sal die gelukkigste dag ooit wees ek die koningin weer kan sien. Sy is ’n ikoon en ’n ongelooflike individu.”

Ander sportsterre soos Mo Farah, Andy Murray en Alastair Cook is ook onlangs tot ridder geslaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Schalk

Sir knee.

Boer

As hulle tot ridder slaan moet hulle dit sommer goed doen!!!!!!!!!!!!!!!!!

Robert

Maar die koningin is wit, dit sal jou pla!!