Sit Verstappen in ’n Mercedes en kyk wat gebeur

Max Verstappen EN Lewis Hamilton. Foto: Guiseppe Cacace/AFP.

Nelson Piquet, die voormalige F1-wêreldkampioen, het in ’n onderhoud gesê dat Max Verstappen vir Lewis Hamilton sou ore aansit indien hulle al twee agter die stuur van ’n Mercedes sou klim.

Verstappen, wat tans in die kleure van Red Bull in aksie is, het Sondag in Bahrein vir Hamilton tot die heel uiterste beproef.

Die 36-jarige wêreldkampioen het egter die eerste ren in vanjaar se reeks naelskraap met 0,745 sekondes gewen.

Hoewel Piquet glo dat dit moeilik is om die twee renjaers met mekaar te vergelyk omdat hulle vir verskillende spanne jaag, meen hy dat die vonke sou spat indien hulle dieselfde Mercedes sou ry.

“As Max vir Mercedes gejaag het, is ek daarvan oortuig dat hy vir Lewis ’n ding of twee sou wys,” het Piquet vir Motorsport.com gesê.

“Max is baie meer aggressief. Natuurlik maak hy dan meer foute, maar ek glo dat hy beter as Lewis is.”

Volgens Piquet het die Brit dinge dalk ’n bietjie te maklik met Valtteri Bottas as spanmaat en dat dinge ’n bietjie reggeskud moet word.

Tog het Hamilton vroeër gesê dat die 31-jarige Fin meer lof verdien.

“Valtteri kry nie altyd die nodige krediet nie, maar hy is ’n ongelooflik vinnige renjaer. Ek dink hy is beter as die meeste ander ouens hier; nie net wat bestuursvernuf betref nie, maar ook wat sy ingesteldheid en benadering betref,” het hy van sy spanmaat gesê.

Lewis Hamilton. (Albert Gea via AP)

Maar Hamilton se bestuursvernuf word al vir ’n geruime tyd teen die Mercedes-motor se klas opgeweeg.

Die 81-jarige Britse motorsportlegende, sir Jackie Stewart, het verlede jaar ook gesê dat die Mercedes-enjin die verskil maak.

“Moet my nie verkeerd verstaan nie, Lewis kan ongelooflik goed bestuur en ek kraak geensins sy vaardighede agter die stuur af nie,” het hy gesê.

Volgens Stewart het renjaers soos die Argentyn, Juan Manuel Fangio, amper iets soortgelyks as Hamilton vermag, maar hy het nooit lank by dieselfde motorvervaardiger gebly nie.

“Lewis het ’n baie goeie besluit geneem toe hy McLaren vir Mercedes verlaat het. Ek haal trouens my hoed vir hom daaroor af. Maar om eerlik te wees, die Mercedes-enjin is tans só superieur dat dit amper onregverdig is.

“Dit is moeilik om vir só ’n renjaer dieselfde respek te hê as vir iemand wat amper iets soortgelyks met ’n swakker motor vermag het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

George het in ‘n Merc geklim en baie goed gejaag. Die realiteite is dat dit ‘n span sport is. Man en masjien saam. Wat sal gebeur as Hamilton (al verpes ek hom!) in ‘n Red Bull gaan klim teen Max? Of sit beide in ‘n Ferrari? Ons weet dit sal nie gebeur nie, daarom kan ons en Nelson maar net spekuleer. Ek glo die gaping tussen Red Bull en Merc gaan baie verklein en dat die Red Bull volgende jaar ‘n wereld kampioen gaan wees.

Tanja ·

Na die hele BLM ding het ek in elk geval al my respek vir Lewis verloor, en om nou verlede Sondag te hoor hy is nou nogal ń SIR ook daarby laat my net nog meer ń anti-Lewis ondersteuner, en ek stem ook saam met Jackie Stewart

MakersMark ·

Wel hopelik sal Verstappen minder knie buig. Hamilton is nou sir maar al lankal lord omgedraai.

Abie ·

Hamilton draai sy mantel na die wind – ry op die BLM sentiment, alhoewel hy net half swart is. Niemand weet of net sy swart pa se lewe saakmaak nie…sy wit ma moet maar sien en kom klaar. Hamilton probeer voorts om almal se liefling te wees en die Britse pers hemel hom op omdat hy (i) , Britse burger en (ii) ‘n swart Britse burger is. Sy bestuursvermoë is na my opinie nie superieur bo die van die gemiddelde F1 renjaer nie, sy voertuig wel. Kyk hoeveel vordering het van de ander spanne gemaak die moment toe hulle Mercedes enjins begin gebruik het? Selfs McLaren lyk kompterend. Nee wat – Hamilton beindruk my glad nie en is nie ‘n Schumacher nie. Hou vir Carlos Sainz, le Clerc en Lando Norris dop die jaar….en gee vir Mick Schumacher ‘n beter kar en hy skop menige ouer jaer se tyres!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.