Skaak-meester geniet Rafa se spel die meeste

Magnus Carlsen. Foto: Twitter.

Vir diegene wat onder die (wan)indruk verkeer dat Rafael Nadal en sy aggressie op die tennisbaan eerder met dié van ’n snelbouler of ’n rugbyspeler vergelyk kan word, dink weer.

Magnus Carlsen, die Noorse skaak-grootmeester, het in ’n onderhoud gesê dat sy eie vermoë om konings op die skaakbord te laat tuimel die beste met Nadal se benadering op die tennisbaan vergelyk kan word.

Die 29-jarige skaakspeler is die heersende wêreldkampioen, terwyl hy in 2010 die jongste speler in die spel se geskiedenis geword het om die eerste plek op die wêreldranglys te beklee.

“Ek het nog altyd gesê dat as sportliefhebbers my met ’n ander sportman wil vergelyk, sal ek dit verkies as hulle dit met Nadal doen – veral wat sy aggressie betref,” het Carlsen gesê.

Maar sal ’n skaakspeler nie meer aanklank by iemand soos ’n Roger Federer vind nie? Die Switserse tennislegende speel dikwels met die presisie en vaardigheid van ’n chirurg wat elke beweging haarfyn beplan.

Rafael Nadal in aksie teen Andrey Rublev. Foto: Twitter.

Aikôna, sê Carlsen.

“Nadal is meedoënloos terwyl hy pleinweg net alles goed kan doen. Hy is ’n monster op die baan.”

Tog is hy ook vol lof vir Federer  – ’n speler wat hy as ’n kunstenaar bestempel.

Die 34-jarige Spanjaard is nou juis besig om amok by die ATP Finals-toernooi in Londen te maak. Hy het Andrey Rublev met 6-3 en 6-4 in sy openingswedstryd kafgedraf.

Nadal is egter nie ’n liefhebber van harde binnenshuise bane nie en het nog nooit met die louere by ’n Finals-toernooi weggestap nie; al het hy vir 16 agtereenvolgende jare vir die toernooi gekwalifiseer.

Die Rublev-sege was sy 19de by die toernooi; ’n prestasie wat hom bó ander tennislegendes soos Jimmy Connors (18 seges) en Stefan Edberg (18 seges) plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.