Skoolsportsterre se besigheidsdroom kry vlerke

V.l.n.r. Daniel Griesel, Estian Ferreira (Willow Way CrossFit) en Stephan Enslin (Foto verskaf)

Toe hulle op skool was, het almal gedink dat Daniel Griesel en Stephan Enslin minstens eendag op provinsiale vlak ʼn krieketbal sou slaan of ʼn rugbybal sou skop.

Een van Daniel se reuse-sesse het immers – toe hy nog op laerskool was – oor die skoolheining geseil en ’n venster van die kerktoring oorkant die pad uitgeslaan. Daarteenoor was Stephan ’n kranige skrumskakel wat aksie vir die jong Bloubulspanne ná skool gesien het.

Soms loop die lewe egter ’n vreemde draai en dinge werk nie altyd uit soos wat ander gedink het nie. Maar as jy oor genoeg deursettingsvermoë en vasberadenheid beskik, kan ’n mens ’n droom vlerke gee wat al in jou skooldae sy eerste tree gegee het.

“Ek en Stephan het al op skool daarvan gepraat om eendag ons eie besigheid te begin, maar ons het nooit presies geweet wat nie,” het Daniel aan Maroela Media gesê.

Dit was egter toe hulle ’n dokumentêre program oor die CrossFit-ster Rich Froning gekyk het waar die saadjie van ’n CrossFit-gimnasium geplant is. Stephan was immers reeds ’n kranige CrossFitter, terwyl Daniel kort daarna ook by Estian Ferreira se Willow Way CrossFit in Pretoria aangesluit het.

“Ek het onmiddellik van die sport gehou en ons het gesien dat dit lekker lyk om met mense in ’n sportiewe omgewing te werk. Jy kan ’n verskil in iemand se lewe maak; en dit boonop in ’n oefeningmilieu.”

En hulle het begin droom.

Maar toe tref die Covid-19-pandemie die wêreld.

“Ons het baie tydens die aanvanlike inperkingsperiode saam oor Zoom geoefen en ons het besluit om ’n besigheidsplan aanmekaar te slaan.”

Willow Way CrossFit (Foto verskaf)

Om ’n lang storie met baie uitdagings kort te maak – Willow Way CrossFit se Centurion-tak het onlangs sy deure geopen met Daniel en Stephan aan die stuur van sake.

“Een van die moeilikste uitdagings was om my werk te los en om hierdie droom voluit aan te pak sonder om terug te kyk.”

Ná die eerste week se klasse het hulle reeds hul bywoningsmikpunt bereik. En volgens Daniel sit hulle nie net met hul hande gevou en wag dat nuwe lede moet kom aansluit nie; aikôna hulle is maar tog te deeglik daarvan bewus dat ’n besigheid harde werk verg.

CrossFitters praat gereeld oor die gevoel van aanvaarding wanneer hulle by ’n gimnasium aansluit – almal moedig mekaar aan en dit is hierdie kamaraderie wat ongetwyfeld tot die espirit de corps bydra.

Volgens Daniel is die pad wat hy en Stephan al saam gestap het – hulle is sedert hul graadsesjaar vriende – ook een van die boustene waarop sukses in onsekere tye kan rus.

“Dit mag dalk onseker wees, maar ek weet dat hierdie my passie is. Sport is inderdaad nou my loopbaan en dit is boonop nog die lekkerste gedeelte daarvan – om ’n verskil daardeur in mense se lewens te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.