‘Skrikkerige’ Rafa gereed vir terugkeer

Rafael Nadal wil vroeg in 2024 sy tennisterugkeer in Australië maak. (Foto: Jaime Reina/AFP)

Rafael Nadal is as’t ware by die laaste tolhek op sy herstelpad – die eindbestemming van die Brisbane International-toernooi wink vroeg in die nuwe jaar.

Die 37-jarige speler se laaste tenniswedstryd was juis in Australië toe Mackenzie McDonald hom vroeër vanjaar met 6-4, 6-4 en 7-5 in die Australiese Ope uitgeskakel het.

Sedertdien het ʼn heupbesering en -operasie hom langs die baan gehou en hy het onder meer sy geliefde Franse Ope – vir die eerste keer in 18 jaar – misgeloop.

“Ek was maar skrikkerig om ʼn terugkeer aan te kondig – ek het vir ʼn hele jaar nie tennis gespeel nie en dan was daar ook die operasie,” het die Spanjaard gesê.

Tog erken hy dat sy hinderlike heupbesering nie vir die grootste kopseer sorg nie.

“Ek bekommer myself oor ʼn klomp dinge, maar ek glo dat ek gereed is om weer in ʼn wedstryd af te slaan. Terselfdertyd hoop en vertrou ek dat dinge goed sal verloop en dat ek die tyd op die baan sal geniet.”

Nadal het vantevore aangedui dat 2024 moontlik sy laaste jaar op die groot verhoog sal wees; ’n 15de Franse Ope-titel is die pot goud aan die einde van die terugkeer-reënboog.

Volgens die wenner van 22 Grand Slam-titels gaan hy vir eens sonder enige verwagting om te wen probeer speel.

“Ek kan nie te veel van myself verwag nie. En dit is die waarheid. Ek bevind myself tans in ʼn splinternuwe situasie en dit is onbekende terrein vir my.”

Verskeie spelers, onder wie Carlos Alcaraz, het al vantevore gesê dat Nadal goed genoeg is om weer op alle suiers te vuur.

“Tennis is ʼn sport waar ritme van groot belang is. Maar Rafa is Rafa en al is hy nie wedstrydfiks nie, kan hy steeds ongelooflike tennis opdis,” het die Spaanse tenniskroonprins gesê.

  • Lys van Nadal se Grand Slam-titels:

Franse Ope: 14 titels (2005, 2006, 2007, 2008, 2010, 2011, 2012, 2013, 2014, 2017, 2018, 2019, 2020 en 2022)

Wimbledon: Twee titels (2008 en 2010)

Australiese Ope: Twee titels (2009 en 2022)

Amerikaanse Ope: Vier titels (2010, 2013, 2017 en 2019)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.