Smit se vertonings ’n kragtoer

Ettiene Smit het al ’n lokomotief van 275 ton getrek. Foto: Facebook.

Die gereelde brandstofprysverhogings behoort nie vir Ettiene Smit veel te skeel nie. Wanneer sy voertuig sonder petrol gaan staan, klim hy waarskynlik net uit en sleep dit verder!

Smit het al die septer as Suid-Afrika se sterkste man vir ’n rekord aantal kere geswaai en het die land by drie internasionale sterkmankampioenskap-eindrondes verteenwoordig. O ja, hy was ook al by die World Strongest Man-kompetisie in aksie.

Maar wat is ’n profielstorie sonder om ’n bietjie te spog? Hy is vir ses keer agtereenvolgens (2004 – 2009) as Suid-Afrika se sterkste man aangewys. Om dié prestasie in perspektief te plaas: Hy het op 26-jarige ouderdom met die sportsoort begin en net vyf jaar later is hy die sterkste man in Suid-Afrika.

In die gimnasium kan hy 425 kg se dooie gewig van die grond optel, terwyl hy by kompetisies met ’n juk van 575 kg op sy skouers kan stap. Net vir die wis en die onwis het hy ook al ’n stoomlokomotief van meer as 200 ton gesleep – ’n motor sonder brandstof behoort dus kinderspeletjies vir hom te wees.

In aksie by een van die kompetisies. Foto: Facebook.

“Die moeilikste uitdaging by só ’n sterkmankompetisie vir my is enige item waar ek ’n gewig bo my kop moet uitstoot,” het hy Donderdagoggend aan Maroela Media gesê.

Hy oefen ses keer per week – hetsy in die gimnasium of ander kragoefeninge.

“Vir kompetisies moet jou bene, rug en skouers sterk wees. Ek doen dus baie squats en deadlifts om dié spiere te versterk.”

Met ’n sportsoort wat soveel stremming op jou spiere plaas, het Smit genadiglik nog geen ernstige beserings opgedoen nie.

“Daar was weliswaar ’n paar kleiner beserings, maar ek was gelukkig genoeg om nog nooit enige groot spier te skeur nie.”

“My sterkmanloopbaan was baie goed vir my, maar vir eers oefen ek net lekker en geniet dit.  Hopelik kan ek in die volgende paar maande nog ’n kompetisie of twee doen, maar my lyf sal vir my sê of ek gereed is, of nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J. van Rensburg ·

A_A_A_A_A_A!!!! Ek DOG ek herken daardie “Stofie” – kl 25 3472, Elize,,, nee,ek seg niks verder nie, maar net hierdie bietjie inligting – sy is nog “sleepbaar” in teenstelling met ander kl25’s. Elize word ook so elke wan en dan deur avontuurlustige kinders rondgesleep waar sy in Germiston deur toegewyde stoom entoesiaste opgepas word…

Peet Schabort ·

Dit herinner my aan SterkHermanus Bosman wat besig was om met sy eenskaarploeg te ploeg toe ‘n sterkman by hom opdaag om uit te vind waar SterkHermanus bly want hy wou gaan kragte meet. Hy was onbewus dat hy reeds by die legendariese Hermanus uitgekom het. SterkHermanus lig die ploeg uit die grond en soos ‘n wysvinger beduie hy waar SterkHermanus bly. Sterkman vra aan hom: “Sjoe, is hy sterker as jy”? Die antwoord kom: “O-ja, baie baie sterker as ek . . . ” Sterkman antwoord: “Ek dink ek moet maar daar wegbly.”
Aanhaling uit ‘Die Bosmans van SA 1707-1965’ saamgestel deur Sita de Kock (geb. Bosman).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.