Smith en Swift na CrossFit Spele

Jason Smith is SA se kampioen. Foto: Facebook.

In 2011 was daar net ’n rapsie meer as 26 000 deelnemers by die CrossFit Ope. Vanjaar was daar vér oor die 400 000 atlete in aksie.

En om almal te kan betrek, het elk van die 236 nasionale kampioene vir die eerste keer ’n uitnodiging na vanjaar se Spele in Madison, VSA, gekry.

Dus maak dit nie saak of jy die VSA se Mat Fraser of Madagaskar se Ratsimbazafy Michael is nie, almal het ’n gelyke kans, kom Spele-tyd.

Suid-Afrika se Ope-wenners, Dina Swift en Jason Smith, het dan ook in Augustusmaand vir die Madison-avontuur gekwalifiseer.

Smith het tydens die 2017-Spele die 10de plek losgeslaan, terwyl Swift haar debuut sal maak.

Die verdedigende Spele-kampioen, Mat Fraser. Foto: Facebook.

Dit lyk ook vanjaar asof die verdedigende kampioen, Mat Fraser, dalk ’n opdraande stryd kan verwag. Fraser is vir drie agtereenvolgende jaar as die Fiksste Man op Aarde gekroon, maar Kanada se Patrick Vellner en Griekeland se Lefteris Theofenidis is sterk aanspraakmakers op sy titel.

Veral Theofenidis lyk na ’n sterk buiteperd.

Die Griekse lugmagoffisier het vierde in vanjaar se Ope klaargemaak en sy statistieke sorg vir goeie leesstof, maar Fraser behoort weer net té sterk en té fiks te wees.

  • Die Spele is van 1-4 Augustus in Madison.
  • Rich Froning, wat vir vier jaar agtereenvolgens die individuele kampioenskap gewen het, sal weer in die spankompetisie deelneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.