Só lyk sake nou vir SA se Kevin Anderson

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Ben Curtis

Kevin Anderson, die eerste Suid-Afrikaner in 35 jaar om die halfeindronde van Wimbledon te haal, sal teen Novak Djokovic of Rafael Nadal in die eindstryd te staan kom indien hy sy halfeindstryd wen.

Die agtste gekeurde Anderson (32) het die eerste gekeurde Roger Federer van Switserland Woensdagaand met 2-6, 6-7(5), 7-5, 6-4, 13-11 geklop.

Hy kom Vrydag in die halfeindstryd teen John Isner van Amerika te staan. Djokovic en Nadal sal ook Vrydag sake uitspook om ’n plek in Sondag se eindstryd.

Djokovic van Serwië het met Kei Nishikori van Japan afgereken om sy plek in die halfeind te verseker terwyl Nadal (Spanje) vir Juan Martín del Potro (Argentinië) gewen het.

Die negende gekeurde Isner het Milos Raonic (Kanada) geklop om sy plek in die halfeindronde teen Anderson te verseker.

“Ek het my bes probeer om aan te hou baklei. Om Roger Federer by Wimbledon te klop, is iets wat ek nie sommer sal vergeet nie,” het Anderson ná die wedstryd gesê. “Ek het net vir myself gesê ek moet aanhou, en soos wat die wedstryd voortgeduur het, het ek vir myself bly sê dis my dag.”

Roger Federer. Foto: AP Photo/Ben Curtis

Suid-Afrika se Kevin Curren het in 1983 na die finaal deurgedring. Curren het in 1985 ook na die finaal deurgedring, maar was in daardie stadium reeds ʼn Amerikaanse burger.

Suid-Afrika se Raven Klaasen en sy dubbelspelmaat, Michael Venus van Nieu-Seeland, speel intussen vandag in die halfeindstryd van die Wimbledon-dubbelspel vir mans.

Die 13de gekeurde dubbelspelpaar het die Brit Jamie Murray en Bruno Soares van Brasilië met 6-7(5) 7-6(5), 5-7, 7-6(4) en 6-4 geklop tydens ʼn marathonstryd van 4 uur en 15 minute om na die halfeindstryd deur te dring.

Hulle kom in die halfeindstryd teen die Deen Frederik Nielsen en die Brit Joe Salisbury te staan. Klaassen en Nielsen het in September verlede jaar ook teen mekaar te staan gekom en het Klaassen en Ruan Oelofse vir Nielsen en Thomas Kromann met 6-3, 6-0, 6-4 verslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jeni ·

Waar is die wat se monde so groot was oor Kevin Anderson?
Hy verdien ook om te wen, trots op SA se Kevin Anderson

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.