Sokker: 24 lande se doppie geklink in Rusland

Die ronde 16 wedstryd tussen Kolobië en Engeland. Engeland het 5-4 gewen. Foto: Xinhua/He Canling.

By Fifa se Wêreldbeker is die ronde van 16 afgehandel. Van die 32 spanne wat in Rusland aangekom het, is daar nou net agt oor. Verskeie gunstelinge kon nie ʼn plek in die laaste agt verseker nie en moes hul tassies pak. Dit sluit lande in soos Duitsland, Spanje, Portugal en Argentinië.

Van die 16 spanne wat sedert Saterdag in aksie was, het 10 nog nooit die Wêreldbeker gewen nie. Twee van die uitstaande aspekte van die ronde van 16 was die twee wedstryde wat op dieselfde dag gelykop geëindig het en deur ʼn doeluitskietstryd beslis moes word: Spanje (3) 1 – 1 (4) Rusland en Kroasië (3) 1 – 1 (2) Denemarke.

Die ander vreemde verskynsel was die feit dat daar in Maandag se stryd tussen Japan en België geen doele in die eerste helfte aangeteken is nie, maar vyf in die tweede helfte. België was egter met 0-2 agter en het nie net sake gelykop gemaak halfpad deur die tweede helfte nie, maar ook die wendoel net 15 sekondes voor die eindfluitjie behaal.

Nou bly daar net agt spanne oor.

Die kwarteind word Vrydag en Saterdag (6 en 7 Julie) gespeel en daar sal weer twee wedstryde elke dag afgehandel word.

Vrydag speel Uruguay teen Frankryk om 16:00. Brasilië en België sal om 20:00 sake uitspook.

Saterdag speel Engeland om 16:00 teen Swede terwyl Rusland en Kroasië mekaar om 20:00 takel vir ʼn plek in die halfeind.

Met verskeie van die aanvanklike gunstelinge wat uitgeskakel is, moet daar geloer word na watter lande nou die goue beker huis toe kan neem. Gegrond op die vertonings tot nou behoort Uruguay, Brasilië, Kroasië en Engeland die halfeind te haal.

Meer inligting is beskikbaar by: https://www.fifa.com/worldcup/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Eerste keer sedert die 1950’s wat Engeland weer bietjie presteer.

nannie ·

Ek kyk nie sokker nie maar my kleinseun se Belgie gaan die wereld kampioen wees. So ek hoop dat sy droom waarheid sal word. Hy het hierdie jaar begin sokker speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.