Sokker: Net vier lande bly oor in die Wêreldbeker-wedloop

Die wedstryd tussen Kroasië en Rusland. Kroasië het 4-3 gewen. Foto: Xinhua/Cao Can

By Fifa se Wêreldbeker is die kwarteindronde afgehandel en daar bly nou net vier van die aanvanklike 32 spanne oor.

Tydens Vrydag se eerste twee wedstryde in die kwarteind is beide die gunstelinge uitgeskakel. Frankryk het vir Uruguay met 2 – 0 getroef terwyl België baas was oor Brasilië (wat al vyf keer die kampioene was) met 2 – 1.

Saterdag is die laaste twee wedstryde in die kwarteind gespeel en Engeland het teen Swede te staan gekom. Engeland het met 2 – 0 deurgeding na die halfeind. Die gasheerland Rusland en Kroasië het mekaar getakel vir die laaste plek in die halfeind en ná ekstra tyd was die telling 2 – 2. Tydens die doeluitskietstryd het Kroasië vir Rusland met 4 – 3 geklop om die laaste plek in die kwarteind op te raap.

Al vyf oorspronklike gunstelinge is voor die halfeind uitgeskakel. Hulle is Duitsland, Spanje, Portugal, Brasilië en Argentinië. Vir die eerste keer in die geskiedenis is nie een van Argentinië, Brasilië of Duitsland in die halfeind van die kompetisie te sien nie. Boonop is al vyf Suid-Amerikaanse lande ook uitgeskakel.

Nou bly daar net vier spanne oor wat sake in die twee halfeindstryde op Dinsdag 10 Julie en Woensdag 11 Julie gaan uitspook.

Dinsdag 10 Julie word die eerste halfeind om 20:00 in die Saint Petersburg Stadion gespeel wanneer Frankryk teen België op die veld draf. Woensdag 11 Julie word die tweede halfeind in die Luzhniki Stadion tussen Engeland en Kroasië beslis.

Die eindstryd word op Sondag 15 Julie om 17:00 ook in die Luzhniki Stadion beslis.

Met verskeie van die aanvanklike gunstelinge wat uitgeskakel is, moet daar geloer word na watter lande die eindstryd kan bereik. Gebaseer op die vertonings tot nou behoort Frankryk en Engeland die beste kans te staan om die eindstryd te haal.

Meer inligting is beskikbaar by: https://www.fifa.com/worldcup/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.