Sokker se wêreldbekerskouspel begin in Rusland

Baniere vir die 2018 sokkerwêreldbeker in St. Petersburg, Rusland. Foto: AP Photo/Lee Jin-man

Die tweede grootste sportskouspel in die wêreld, Fifa se Wêreldbeker-sokkertoernooi, begin Donderdag (14 Junie) in Rusland. Die eerste wedstryd word tussen Rusland en Saoedi-Arabië gespeel.

Twee en dertig lande het gekwalifiseer om aan die toernooi deel te neem wat oor ʼn tydperk van vyf weke gespeel word. Daar is agt groepe (A-H) met vier spanne per groep wat sake tot en met 28 Junie in die groepfase sal uitspook. Die uitspeelrondes begin op 30 Junie en die eindstryd sal op 15 Julie beslis word.

Gianni Infantino, president van Fifa, by Rusland se pres. Wladimir Poetin. Foto: AP Photo/Alexander Zemlianichenko

Sedert 1930 is 16 toernooie aangebied en nog net sewe lande kon die troefee omhoog hou. Daar was ʼn paar dramatiese skokke in die verlede wat lank onthou sal word. Die VSA het Engeland in 1950 geklop, Noord-Korea reken met Italië af in 1966 en dan was daar Kameroen se oorwinning oor Argentinië in 1990.

Die omvang van die toernooi is astronomies. Nagenoeg 37 miljard mense het die 1998-toernooi in Frankryk wêreldwyd op televisie gevolg. Meer as 2,7 miljoen toeskouers het na die stadions in Frankryk gestroom om die aksie tydens die 64 wedstryde te beleef.

ʼn Paar lande tel onder vanjaar se gunstelinge om die goue troefee huis toe te neem.

Brasilië

Brasilië se doelwagter Alisson. Foto: AP Photo/Andre Penner

In 2014 was Brasilië die gunstelinge om die kroon op tuisbodem te dra. Hulle het egter in die halfeind met 1-7 teen Duitsland verloor. Brasilië het egter vyf keer al die troefee verower en hulle is goed voorberei vir vanjaar en spog met topspelers in hul geledere. Dink maar aan Gabriel Jesus en Neymar.

Duitsland

Duitsland is die houers van die troefee en hulle is bekend daarvoor om tydens groot toernooie hul beste te lewer. Hulle het die halfeindronde gehaal in die laaste vier toernooie en behoort weer goeie rekenskap van hulself te gee.

Spanje

Soos Brasilië, het Spanje die kans om sake reg te stel in Rusland nadat hulle in 2014 reeds in die groepfase uitgeval het. Onder Julen Lopetegui het hulle in twee jaar nog nie verloor nie. Spanje speel egter in hul openingswedstryd teen Portugal.

Frankryk

Frankryk se afrigter Didier Deschamps. Foto: AP Photo/David Vincent

Frankryk het ʼn goeie opwarmingstyd agter die blad. Ongelukkig het hulle Saterdag gelykop gespeel teen die VSA wat vrae laat ontstaan het. Paul Pogba het egter met sy vertoning gehelp om die gees positief te kry. Die Franse behoort die halfeindstryd te haal.

Argentinië

Argentinië het gesukkel om te kwalifiseer vir die toernooi in Rusland en selfs hul voorbereiding het ook nie glad verloop nie. Boonop is hul opwarmingswedstryd verlede week teen Israel gekanselleer. Lionel Messi is die speler wat sy span na glorie moet lei. Daar is ook spelers soos Giovani Lo Celso en Angel Di Maria wat ʼn verskil kan maak. Sou Argentinië egter hul moeilike groep wen, wag Spanje heel moontlik op hulle in die kwarteindronde.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.