Sokkerklub in die sop oor poppe-flater

Dertig poppe het hul verskyning by ’n FC Seoul-wedstryd gemaak. Foto: Twitter.

In die Covid-19-era is toeskouerlose byeenkomste talle sportsoorte se voorland. Maar ’n sokkerklub in Suid-Korea het dalk té hard probeer om die hernieude speelregulasies so draaglik moontlik vir hul spelers te maak.

FC Seoul het onlangs in ’n amptelike verklaring om verskoning gevra omdat hulle onwetend opblaas-sekspoppe in plaas van mannekyne in die plek van toeskouers ingespan het. Die klub is ook met R1,45 miljoen vir dié faux pas beboet.

Die klub het aangevoer dat die “toeskouers” eintlik duur mannekyne, in plaas van opblaas-sekspoppe is. Hulle het egter later erken dat hulle die poppe by ’n verskaffer van seksspeelgoed aangeskaf het.

Boonop het van die poppe vrolik ’n paar plakkate in die lug gehou wat obskure webblaaie adverteer. Pornografie is onwettig in Suid-Korea.

FC Seoul het Sondag sy eerste tuiswedstryd gespeel. ’n Paar uur voor afskoptyd is hulle deur ’n maatskappy, Dalcom, geskakel wat aangebied het dat hulle sal help om die leë sitplekke te vul.

Skaars was daardie telefoongesprek iets van die verlede, of Dalcom-werknemers het met 30 “mannekyne” – 28 vroue en twee manne – opgedaag.

Ondersteuners wat die wedstryd aanlyn gevolg het, het lont geruik toe hulle snap dié poppe deug ook vir ander plesiere as sokker.

Volgens FC Seoul se Lee Ji-hoon het hulle nie hul huiswerk oor Dalcom gedoen nie.

“Ons het nie geweet dat hulle in die seksbedryf werk nie. Die poppe het baie realisties gelyk en ons het nooit gedink dat dit sekspeelgoed is nie.

“Die voorval is ’n klap in die gesig van vroue; sokker is immers ’n gesinsport,” het die plaaslike sokkerbase in ’n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.