Sokkerspan se All Whites-bynaam kan waai

Nieu-Seeland se sokkerspelers, getooi in wit, vier ’n doel tydens die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi. Foto: Filippo Monteforte/AFP.

Nieu-Seeland se sokkerbeheerliggaam (NZF) oorweeg dit om die nasionale span se All Whites-bynaam te skrap.

Die naam verwys na die span se wit kleredrag wat hulle vir die eerste keer in kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbeker-toernooi in 1982 gedra het.

Tog word uit Nieu-Seeland berig dat die land se sokkerbase vrees dat die naam dalk deur sommiges as nie as inklusief genoeg bestempel sal word nie.

Volgens die New Zealand Herald wou Andrew Pragnell, NZF se uitvoerende hoof, nie tot ’n onderhoud instem nie, maar hy het later in ’n kort verklaring gesê dat die nasionale sokkerbeheerliggaam op ’n reis van kulturele inklusiwiteit is.

“As deel van ons volhoubaarheidsprojek wat verlede jaar van stapel gestuur is, is ons besig om met belanghebbendes na alle dele van die organisasie te kyk om seker te maak dat dit voldoende is vir 2021 en daarna.”

Verskeie sportspanne het in die afgelope tyd van naam verander of hul bynaam probeer afskud. Die Cleveland Indians-bofbalspan staan deesdae as die Guardians bekend, terwyl die Washington Redskins ook in die proses is om hul bynaam die trekpas te gee.

Ondersteuners van Nieu-Seeland se sokkerspan. Foto: Jim Watson/AFP.

“Dit is nog hopeloos te vroeg om oor die moontlike uitslag van die proses kommentaar te lewer, maar dit is belangrik omdat ons daarna streef om die mees inklusiewe sportsoort in Aotearoa te wees,” het Pragnell gesê.

Dit is egter nie die eerste keer wat sokkerbase dit oorweeg om die All Whites-naam by die stadionvenster uit te skop nie.

Michael Glading, die voormalige uitvoerende hoof, het reeds in 2009 voorgestel dat die span eerder in swart kleredrag moet speel en hul bynaam geskrap moet word.

Maar dit was eerder om die Nieu-Seelandse sokkerspan ’n uniekheidshupstoot op die internasionale verhoog te gee; g’n ander nasionale span het toe in swart wedstryddrag gespeel nie.

Jason Pine het egter die nuutste beplande naamsverandering as “absolute malligheid” bestempel.

“Die naam is deur ondersteuners uitgedink omdat die span in wit speel. Dit is soos die Boston Red Sox – hulle dra rooi sokkies. Die All Whites dra wit T-hemde. Dit is al,” het Pine op Twitter geskryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andre ·

So hulle wil die naam van All Whites verander sodat daar geen rasistiese vingers gewys kan word nie. Geld dit nie na altwee kante toe nie? Dan is hulle al jare rasisties teenoor die blankes! So All Whites is rasisities, maar nie All Blacks nie? Die wereld raak laf met hulle jammer ons leef statements!

commontar ·

Ja All Blacks laat my nogal uitgesluit voel – hulle moet wegdoen met die simpel rassistiese naam. Ek koop ook nie meer shampoo nie – wat van die arme mense wat bles is? Ek wil net nie hulle laat sleg en uitgesluit voel nie!

Renier ·

Sneeuvlokkie siekte, as ons almal se gevoelens wil oppas gaan ons eerder moet stilbly.

Harley Davidson ·

Twak,daar is niks mee verkeerd nie en hulle moet vasstaan en die wat nou weer iets sien wat daar nie is nie die middel vinger gee.

Andre ·

Ek kan net lag as ek dink hoe die wêreld homself of haarself in ‘n hoek vas verf. Dit gaan nog gebeur dat almal van ons moet voorgee dat ons stom is want elke woord gaan rassisties geoordeel word. Verby is die dae van wit en geel rys;; boere wors; swart luiperd en so kan ons aangaan

Charl ·

So van absolute belaglikheid het ek lanklaas gesien, staan op vir jou blankwees en soos Jasper dit noem, gee almal die middelvinger wat so gatkruip om kwansuis tog net ”polities korrek” te wil wees, genoeg is genoeg en dit walg my !

Charl ·

O ja, amper vergeet ek, ons sit met sokkerspanne (mans en vrouens) in Suid Afrika wat oorwegend swart is, 90% + ! Waar’s die regverdigheid daarin ? So moenie ‘n klomp tjol wil gorrel oor rassegelykheid en voorheen benadeelde groepe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.