Sokkertoeskouers moet ook wys hulle is Covid-vry

Foto: Adrian Dennis/AFP.

Nadat die organiseerders van die Franse Ope daarop aangedring het dat toeskouers moet bewys dat hulle nie Covid-19 het nie, het oorsese sokkerbase met ’n soortgelyke maatreël vorendag gekom.

Ondersteuners wat Engeland se Euro 2020-wedstryde op die Wembley-stadion wil bywoon, sal óf ’n bewys van inenting, óf ’n negatiewe toetsuitslag (nie ouer as 48 uur nie) moet toon.

Volgens berigte sal Wembley tot 22 500 toeskouers toelaat en Engeland-ondersteuners kan hul inentingstatus op ’n selfoon-toepassing wys.

Tog is geen bewys nodig om toegang tot Hampden Park in Skotland te verkry nie.

Volgens die Europese sokkerbeheerliggaam Uefa is sy hoofprioriteit, in samewerking met plaaslike gesondheidsowerhede, om ’n veilige toernooi aan te bied.

Toeskouers in die Covid-19-era is egter nog taboe by Suid-Afrikaanse sportbyeenkomste, terwyl Australiërs en Nieu-Seelanders al vir maande by wedstryde toegelaat word.

Amper 30 000 toeskouers was by die eindstryd van die Big Bash League in Sydney, terwyl reuseskares die Rugby League-kragmetings bywoon.

Maar met die Britse en Ierse Leeus-toer om die draai, hoop Suid-Afrikaanse rugbybase egter dat ’n beperkte aantal toeskouers by die wedstryde in Suid-Afrika toegelaat sal word.

“Ons sien uit daarna om die rooi tapyt vir die Springbok-wêreldkampioenspan en die besoekende Britse en Ierse Leeus uit te rol,” het Dan Plato, Kaapstad se burgemeester, gesê nadat die Leeus se Kaapse draai bevestig is.

“Kapenaars is mal oor sport en het ’n groot liefde vir rugby. Hoewel ons die huidige beperkings op toeskouergetalle verstaan, hoop ons dat die minister van sport op streng voorwaardes ’n beperkte aantal toeskouers by die stadion sal toelaat.”

Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, wil ook graag toeskouers by die wedstryde sien, maar tans word daar nog vir kragmetings agter geslote deure beplan.

“Indien die situasie sou verander, sal ons besluite neem op grond van die regulasies en beperkings wat geld,” het Roux gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.