Somerreeks: blootstelling grootste bydrae

Lilian du Plessis het in die somerreeks haar 100ste toets gespeel

Lilian du Plessis het in die somerreeks haar 100ste toets gespeel

Die Somerreeks van SA Hokkie wat Vrydagaand in Kaapstad ten einde geloop het, het vir Suid-Afrika insig in hulle diepte gegee en ook waardevolle ervaring op internasionale vlak aan ʼn aantal jong mans- en vrouespelers gebied.

Die vroue het teen Chili, China en België in die reeks gespeel terwyl die mans teen Nederland en België te staan gekom het.

Op die oog af lyk dit of die Suid-Afrikaanse mans ʼn swak toernooi gehad het, sonder ‘n enkele oorwinning en met ʼn paar groot tellings teen hulle.

Maar die uitslae moet in perspektief gesien word. Die Suid- Afrikaanse span is ‘n baie jong span, só gekies met die oog op die toekoms. Suid-Afrika is 15de op die wêreldranglys terwyl België, die silwermedalje-wenners by die Olimpiese Spele, vierde op die wêreldranglys is.

Nederland is derde op die ranglys.

Die Suid-Afrikaanse span het bly verbeter en werklik heelwat uit die internasionale blootstelling geleer.

Die mansspan se ses toetstellings was

Teen Nederland: 2-6, 1-7. 1-5
Teen België:  4-7, 2-3, 0-3.

Die vrouespan het eweneens goed gevaar, maar was ietwat wisselvallig en het tussen hoogte- en laagtepunte gewissel.

Hulle het in die openingswedstryd 3-0 teen Chili, wat in die 23ste plek op die ranglys tien plekke swakker as Suid-Afrika is, maar toe in hulle tweede wedstryd teen Chili 2-3 verloor.

China, agste op die wêreldranglys, het die Proteas in hulle eerste wedstryd 3-2 geklop en 5-2 in die tweede. In die derde wedstryd teen China het die Proteas vir een van hulle beste vertonings in jare gesorg en 4-2 gewen.

België, wat 14de gekeur was, het daarna twee wedstryde teen die SA-vrouespan gespeel. Hulle het die eerste een naelskraap 1-0 gewen en die tweede wedstryd was gelykop, 3-elk.

♦  Suid-Afrika hoef nie weer amper ʼn jaar te wag vir internasionale kompetisie nie. Spanne van Engeland, en Duitsland kom later die maand na Suid-Afrika vir ʼn reeks wedstryde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.