Sony-Ope: Verhaal van Steele en Kirk

Brendan Steele. (Foto: Cliff Hawkins/Getty Images/AFP)

Die Amerikaanse gholfspeler Brendan Steele moet daaraan dink om eerder onder ʼn skuilnaam te speel wanneer hy voortaan in die Sony-Ope in Hawaii afslaan, want ondanks sy van het hy oënskynlik nie senuwees van staal nie.

Steele was verlede jaar reeds in die pylvak op pad na ʼn gerieflike oorwinning toe hy die kluts oor die laaste drie putjies kwytgeraak het. Hy het saam eerste geëindig en die daaropvolgende uitspeelstryd teen Cameron Smith verloor.

Sondagaand (Suid-Afrikaanse tyd) het dit weer gebeur toe hy met twee houe as voorloper in die laaste ronde van vanjaar se toernooi afgeslaan het.

Sake het reeds op die 10de putjie begin lol toe hy ʼn hou aan baansyfer afgestaan het. Op die 14de putjie het hy weer verbrou en sy voorsprong was daarmee heen.

Maar Steele, Kevin Na, Chris Kirk, Joaquin Niemann en Webb Simpson het almal ʼn kans gestaan op die laaste putjie.

Na het ʼn voëltjie aangeteken om op 259, 21 houe onder die baansyfer, te eindig.

Kirk en Niemann was saam tweede op 260 (20 houe onder die baansyfer) met Steele, Simpson en Marc Leisman saam vierde op 261, 19 houe minder as die baansyfer.

Na het R18 108 000 in sy sak gesteek, terwyl Steele met ʼn tjekkie van R2 432 000 tevrede moes wees.

Terwyl Steele die spoke probeer wegdryf het, was veral Kirk in ʼn kwaai persoonlike stryd gewikkel om sy spelersregte te behou.

Die 35-jarige Kirk moes tweede eindig, want dit was sy laaste kans nadat hy toegelaat is om vanweë mediese redes sy toerkaart te behou, mits hy tweede of beter sou eindig.

Kirk is maande lank vir alkoholmisbruik en depressie behandel, maar het vasgebyt en deurgedruk en tweede geëindig.

Dis mos senuwees van staal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.