Spaanse koning wens tennis-kroonprins geluk

Die 18-jarige Carlos Alcaraz. Foto: Twitter.

Die 18-jarige Carlos Alcaraz het ’n oproep van koning Felipe VI van Spanje ontvang nadat hy gister in die eindstryd van die Miami-ope die septer geswaai het.

Die jong tennis-sensasie het vir Casper Ruud met 7-5 en 6-4 geklop om die eerste Spaanse speler te word om die toernooi te wen.

Sy oorwinning het beslis ’n koninklike gelukwensboodskap regverdig.

“Dit was ongelooflik om met die koning oor die telefoon te praat en ek was eintlik toe meer op my senuwees as gedurende die hele wedstryd. Ek het nooit gedink dat so iets met my sal gebeur nie,” het Alcaraz gesê.

Volgens die jongste ATP-ranglys is hy tans die 11de beste speler ter wêreld en daar is reeds sprake dat hy eersdaags die mantel as Spanje se voorste speler by Rafael Nadal kan oorneem.

“Ek het nog altyd na Rafa opgekyk en baie by hom geleer; veral die manier waarop hy belangrike wedstryde benader.”

Nadal, wat al vantevore sy raket vir die heuningkwas verruil het om Alcaraz se lof te besing, was een van die eerste sterre om die jong speler met sy Miami-prestasie geluk te wens.

Volgens die wenner van 21 Grand Slam-titels was Alcaraz se triomf ’n geskiedkundige oomblik en wag daar nog baie titels op die jong Spanjaard.

Intussen is Novak Djokovic steeds die wêreld se voorste speler, gevolg deur Daniil Medvedev en Alexander Zverev.

Roger Federer het met 18 ranglysplekke geval en hy is tans 44ste op die lys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Ek is mal oor die jong klomp wat nou hul deurbrake maak op die tennisbane. Ek wens hul almal voorspoed toe.

piet ·

11de op die ranglys en net 18 jaar oud, goeie genugtig. Hier is verseker die volgende generasie Federer/Nadal/Djokovic.. Mind you, Boris Becker het Winmbledon gewen toe hy 16 was. Laasgenoemde was eintlik ‘n hartseerdag vir Suid-Afrikaners toe ons eie Kevin Curren teen hom verloor het in die eindstryd maar aan die anderkant weer die begin van ‘n skitter loopbaan van ‘n superster.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.