Spanjaard steeds Medvedev se tier

Daniil Medvedev en Roberto Bautista Agut. Foto: Michael Reaves/Getty Images/AFP.

Spanje se Roberto Bautista Agut het gister vir ’n mini opskudding gesorg toe hy die hoogaangeskrewe Daniil Medvedev met 6-4 en 6-2 in die kwarteindstryd van die Miami-ope uitgeskakel het.

Die 32-jarige Spanjaard het nou al drie wedstryde teen die wêreld se no. 2-speler gewen en hy sal nou in die halfeindstryd teen die jong Italianer Jannik Sinner te staan kom.

“Ek moet vir Daniil erkenning gee; ek weet hy is een van die beste spelers ter wêreld. Hy wen baie tenniswedstryde en om vandag te seëvier is vir my baie spesiaal. Ek is trots op die manier waarop ek gespeel het,” het Bautista Agut gesê.

Naomi Osaka. Foto: Michael Reaves/Getty Images/AFP

Teen Sinner wag daar egter ’n taai halfeindstryd op hom. Hy het juis in Dubai met 6-4, 3-6 en 7-5 teen hom verloor.

“Ek sal ongetwyfeld met ’n soortgelyke vertoning teen Jannik vorendag moet kom as ek na die eindstryd wil deurdring.”

In die vroue-afdeling is die toernooi-gunsteling, Japan se Naomi Osaka, deur Griekeland se Maria Sakkari uitgeboender.

Die telling was 6-0 en 6-4 in die Griek se guns.

Sodoende het Osaka se onoorwonne rekord – wat oor 23 wedstryde gestrek het – tot ’n einde gekom.

“Ek dink selfs in die tye wanneer jy nie goeie tennis speel nie, moet ’n mens steeds maniere vind om wedstryde te wen. Ek probeer nog om dit reg te kry,” het Osaka na die tyd gesê.

“Hopelik verloor ek nie weer so erg soos vandag nie, maar tog leer ’n mens ook baie uit sulke wedstryde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.