Leon Spinks, die bokser wat Muhammad Ali om die wêreldtitel geklop het, is Vrydag in die ouderdom van 67 dood.
Die gewilde Spinks het onder meer prostaatkanker gehad.
Hy het in 1978 die verbeelding van die bokswêreld aangegryp toe hy Ali ná 15 rondes in Las Vegas geklop het. Dit was Spinks se agtste professionele geveg van sy loopbaan.
“Ek is hoegenaamd nie die beste nie. Ek is net die ‘nuutste’ bokser op die wêreldverhoog,” het Spinks agterna gesê.
Ali het egter later in dieselfde jaar wraak geneem toe hy Spinks voor 72 000 toeskouers in New Orleans geklop het.
Suid-Afrika se Gerrie Coetzee het ook kragte teen die Amerikaanse ster in Monte Carlo gemeet. Die “Boksburg Bomber” het Spinks in die eerste ronde planke toe gestuur om sy naam op die internasionale boksverhoog ’n groot hupstoot te gee.
Maar die Amerikaner het ook goud by die Olimpiese Spele van 1976 gesmaak en hy het sy professionele loopbaan met ’n rekord van 26–17–3 afgesluit. Hy het 14 van sy teenstanders uitgeslaan.
“Leon het moedig teen verskeie siektes baklei sonder om een keer sy glimlag te verloor,” het The Firm PR in ’n verklaring gesê.
Die bokspromotor Bob Arum het Spinks as die sout van die aarde beskryf.
“Hy was ’n vrolike mens. Ja, hy het soms ’n bietjie vreemde dinge gedoen, maar jy kon nooit vir hom kwaad wees nie,” het Arum gesê.
Rest in peace, Leon Spinks.
Olympic medalist, Pan American medalist, and of course, WBC heavyweight champion. pic.twitter.com/dsByBrLp2L
— Mauricio Sulaiman (@wbcmoro) February 6, 2021
Sjoe hy was goeie bokser daai jare
As bokser was hy een van die swakste swaargewig kampioene wat ooit die titel gewen het.