Stadige begin demp nie Protea-veggees

Die Proteas het hul eerste toerwedstryd teen Engeland se Rose met 54 – 51 in Manchester verloor. (Foto: X/England Netball)

Ondanks ʼn vlamvat-vertoning net ná rustyd het die Protea-netbalspan steeds met 54 – 51 teen Engeland verloor.

Die rustydtelling was 30 – 22 in die Rose se guns.

Suid-Afrika het die laaste twee kwarte onderskeidelik met 14 – 13 en 15 – 11 beklink, maar ʼn stadige aanloop tot die wedstryd het sake vir hulle op die baan bemoeilik.

“Ons het aanvanklik senuweeagtige spel opgedis en ons het veral met ons aangeewerk gesukkel. Dinge het egter ná rustyd beter op die baan gegaan,” het Norma Plummer gesê.

Die Protea-afrigter is optimisties dat die spelers uit hul foute sal leer.

“In die geheel is ek egter beïndruk met ons spel – veral in die tweede helfte. Ek dink dat hierdie groep ʼn paar groot spelers sal oplewer.”

Volgens Fran Williams het die Rose vooraf geweet dat die Proteas nie sommer sal handdoek ingooi nie.

“Suid-Afrika sal altyd tot die laaste doel teen Engeland baklei en hul fisieke spel in die derde kwart het ons so byna onkant betrap. Ons sal in die oorblywende wedstryde moet seker maak dat ons nie konsentrasie verloor nie – veral wanneer ons soos nou ʼn goeie aanloop tot die kragmeting geniet,” het die Engeland-kaptein gesê.

Engeland se Imogen Allison is as die speler van die wedstryd aangewys.

Hoe sake ná elke kwart gestaan het:

Eerste kwart: Engeland 16 – 11 Suid-Afrika

Tweede kwart: Engeland 30 – 22 Suid-Afrika

Derde kwart: Engeland 43 – 36 Suid-Afrika

Vierde kwart: Engeland 54 – 51 Suid-Afrika

Protea-toergroep: Boitumelo Mahloko, Kamogelo Maseko, Phumza Maweni, Bongi Msomi (kaptein), Rolene Streutker, Refiloe Nketsa, Karla Pretorius, Lefébre Rademan, Jeanté Strydom, Nicola Smith, Ané Retief, Owethu Ngubane, Ine-Marí Venter en Nicholé Taljaard.

Komende bepalings:

9 Desember: Suid-Afrika teen Engeland om 19:00 in Nottingham

10 Desember: Suid-Afrika teen Engeland om 16:00 in Nottingham.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.