Stan is “oud”, maar nog nie koud

Stan Wawrinka. Foto: (AP Photo/Pavel Golovkin)

Enkele weke voor sy 38ste verjaardag het Stan Wawrinka Switserland laat deurdring tot die finale rondes van die Davisbeker. Hy het die beslissende punt gewen om aan Switserland ʼn oorwinning oor Duitsland te verseker in ʼn wipplankstryd.

Wawrinka het saam met tennislegende Roger Federer in 2014 vir Switserland die Davisbeker gewen.

Met die telling tussen die twee spanne op 2-2, moes Wawrinka afreken met Daniel Altmaier wat 13 jaar jonger as hy is. Dit was die jonger Duitser se debuut in die toernooi. Wawrinka moes hard werk, maar kon 6-3, 5-7 en 6-4 wen om die horlosie terug te draai. Wawrinka het reeds in 2004 in sy eerste Davisbeker-wedstryd gespeel. Hy het lank gesukkel met twee voetbeserings en het agt jaar laas vir sy land gespeel.

Wawrinka het Vrydag sy eerste wedstryd in die enkelspel in skoon stelle teen Alexander Zverev verloor. Hy was Saterdag weer aan die verloorkant, toe hy en Marc-Andrea Huesler in die dubbels 6-7 (3/7), 6-3 en 6-4 teen die Duitsers Tim Puetz en Andreas Mies verloor het.

Dit was die einste Huesler wat gesorg het vir die groot verrassing. Hy het vir Zverev, die nommer 14‑speler op die wêreldranglys, 6-2 en 7-6 (7/3) geklop om die telling tussen die spanne twee elk te maak.

Amerika het ook deurgedring tot die volgende ronde in September deur Oezbekistan te klop. Die VSA het die 123 jaar oue toernooi reeds ʼn rekordgetal 32 keer gewen.

Serwië moes sonder Novak Djokovic klaarkom, maar het steeds vir Noorweë geklop.

Tienmalige kampioene, Frankryk, het vir Hongarye uitgeskakel. Ugo Humbert, wat ook in sy eerste Davisbeker speel, het die wenpunt vir die Franse ingepalm.

Swede het Bosnië 3-1 geklop.

Die kampioene van 2005 en 2018, Kroasië, is 2-0 voor teen Oostenryk. Borna Coric het Dennis Novak 6-3 en 7-5 geklop en Borna Gojo het verras deur Dominic Thiem 6-3 en 7-6 (7/2) te klop.

Chili is 1-1 teen Kazakstan, België loop 2-0 voor teen Suid-Korea, Nederland is 2-0 voor teen Slowakye, Finland en Argentinië is 1-1 en die Tsjeggiese Republiek is 2-0 voor teen Portugal.

Die wenners van die naweek se 12 wedstryde dring deur tot die groepfase in September saam met die verdedigende kampioene Kanada, Australië, Italië en Spanje.

Die topagtspanne dring dan deur tot die eindronde in Malaga in November.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.