Stefanos sê Rafa inspireer hom

Stefanos Tsitsipas en Rafael Nadal. Foto: William West/AFP.

Een van tennis se blinkste jong sterre, Stefanos Tsitsipas, het sy raket neergesit en die heuningkwas nadergetrek om Rafael Nadal se jongste droomlopie te beskryf.

Benewens die Spanjaard se 21ste Grand Slam-titel wat hy in Melbourne verower het, het hy vanjaar reeds 15 wedstryde op ’n streep gewen: Glad nie ’n slegte vertoning deur ’n speler wat vroeër gevrees het dat sy tennisloopbaan iets van die verlede is nie.

’n Voetbesering het Nadal verlede jaar vir ’n hele paar maande langs die baan gehou en die tennislegende het erken dat hy begin twyfel het of hy ooit weer op die groot verhoog sou afslaan.

“Almal weet ek hou meer daarvan om wedstryde in die buitelug te speel, maar ek was mal oor die atmosfeer vandag. Om eerlik te wees, dit maak nie saak of dit onder dak is of nie; ek speel tennis en dit laat my glimlag,” het die Spaanse matador ná een van sy suksesvolle wedstryde in Australië gesê.

Tsitsipas weet hoe hard ’n speler moet werk om ’n suksesvolle terugkeer ná ’n besering te maak – hy het immers ook vroeër met ʼn elmboogbesering gesukkel.

Volgens die jong Griek het hy dit selfs oorweeg om sy uittrede aan te kondig, maar hy het met ’n paar skittervertonings in die Australiese Ope vorendag gekom en is eers in die halfeindstryd deur Rusland se Daniil Medvedev uitgeskakel.

“Rafa is verstommend – hy hou net aan om wedstryde te wen. Ek weet nie presies wat sy voorbereidingswerk alles behels het nie, maar hy is ongetwyfeld ’n inspirasie vir my,” het Tsitsipas gesê.

Roger Federer, een van die beste spelers nóg, het ook al vantevore Nadal vir sy veerkragtigheid geloof.

Die 40-jarige Switserse tennislegende se knieoperasies hou hom al geruime tyd weg van die baan, maar hy was vinnig om Nadal se lof op sosiale media te besing nadat hy die Australiese Ope  gewen het.

“Dit is verstommend om te dink dat ons al twee net ’n paar maande gelede mekaar oor ons krukke geterg het. Wys jou net: ’n Mens moet nooit ’n groot kampioen onderskat nie,” het Federer gesê.

“Jou ongelooflike werketiek, toewyding en veggees is vir tennisliefhebbers wêreldwyd ’n inspirasie.”

Nadal speel vandag teen Sebastian Korda in sy eerste wedstryd van die Indian Wells-toernooi in Kalifornië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.