Steffi-rekord in Novak se visier

Serwië se Novak Djokovic. Foto: William West/AFP.

Daar is reeds ’n string rekords agter Novak Djokovic se naam en die 34-jarige Serwiër vier vandeesweek sy 350ste week as die wêreld se voorste manstennisspeler.

Hoewel sy droom om al vier Grand Slam-titels in een kalenderjaar te behaal skipbreuk gely het, het hy steeds 55 wedstryde in 2021 gewen en slegs sewe verloor.

En indien hy vir ’n verdere 28 weke sy plek op die ranglys behou, sal hy Steffi Graf se rekord verbeter. Die gewilde Duitse speler was vir 377 weke van haar loopbaan eerste op die wêreldranglys.

Volgens Djokovic is dit ’n eer om in dieselfde geselskap as van die wêreld se grootste tennislegendes te wees.

“Om te weet dat ek my plek tussen hulle verdien het deur slegs my droom as kind na te jaag is ’n wonderlike bevestiging dat alles moontlik is. Veral as jy dit met passie aanpak,” het die Serwiër gesê.

Boonop lyk dit ook nie of hy enigsins van plan is om binnekort die aftog te blaas nie. Jim Courier, ’n voormalige wêreldno. 1-speler, het vroeër gesê hy wens dat Djokovic tot 40-jarige ouderdom sal speel, terwyl Justine Henin ook die Serwiër se lof besing het.

“Novak is ’n unieke speler. Ek dink dit is tyd dat mense begin besef hoe goed hy is,” het die Belgiese Grand Slam-wenner gesê.

“Jy kan van hom hou of nie – ek weet daar is baie mense wat nie veel ooghare vir hom het nie – maar wat hy op die tennisbaan vermag is doodeenvoudig verstommend.”

Volgens Henin is Djokovic se veerkragtigheid en veggees van sy uitnemende sterk punte.

“Ek dink ook sy nederlaag in die onlangse Amerikaanse Ope teen Daniil Medvedev was ook nodig sodat hy weer vir ’n slag kon asemhaal en vir almal wys hy is ook net ’n mens. Hy was ook nog nooit só geliefd op ’n tennisbaan soos in daardie wedstryd nie.”

Djokovic en sy Serwiese spanmaats se Davisbeker-veldtog het egter verlede week tot ’n einde gekom toe hulle deur Kroasië in die halfeindstryd uitgeskakel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.