‘Stillknocks’ is EFC se kroonprins

Dricus “Stillknocks” du Plessis met sy titels. Foto: Verskaf.

In die aksiebelaaide wêreld van die EFC (Extreme Fighting Championship) en UFC (Ultimate Fighting Championship) is byname so deel van jou vegtersreputasie as wat vuishoue en nekgrepe is.

Dink maar aan Conor “Notorious” McGregor en Liz “Girl-Rilla” Carmache.

Hier in Suid-Afrika is Dricus “Stillknocks” du Plessis een van die EFC se topvegters. Die Pretorianer het juis in Desember gedurende EFC83 in sy tuisstad korte mette van Brendan Lesar in ’n middelgewig-titelgeveg gemaak.

Soos waarop sy bynaam tereg sinspeel: Wanneer Stillknocks jou eers in ’n hoek gedruk het, kan jy maar weet dat jou slaaptyd om die draai is.

Sy sport het hom al na Slowakye, Engeland, Pole en Thailand geneem, maar om voor sy tuisskare in aksie te wees: nou dít maak ’n man mos gelukkig.

Nadat hy vir Brendan Lesar in Pretoria ore aangesit het. Foto: Verskaf.

“Dit was een van die grootste oomblikke in my loopbaan om voor my mense in Pretoria te kon baklei,” het Du Plessis aan Maroela Media gesê.

Hy het op skool aan sportsoorte soos atletiek, krieket en sagtebal deelgeneem; goeiste hy het selfs ’n bietjie gedans, maar dit was kontaksport – waaronder rugby – wat die grootste indruk op hom gemaak het.

“Ek het op 16-jarige ouderdom my eerste EFC-aand bygewoon. Net daar en dan het ek geweet dat ek dit eendag sal wil doen.”

Sy geveg teen Lesar was die hoofgeveg van EFC83 en hy moes eers ’n hele rukkie vir die voorafgevegte gewag het om klaar te maak.

“Op só ’n dag dink mens altyd aan die groot oomblik, maar jy probeer ook om ’n bietjie af te skakel en jouself nie té veel uit te put nie. Normaalweg doen ons soggens vóór ’n groot geveg ’n lekker kort sessie in die heksagoon, net om jou litte ’n bietjie los te maak en om jou meer vertroud te maak met die arena.

“In die aand beplan ek my etes haarfyn, my hande word toegedraai, ons doen ’n lekker lang opwarmingsessie, die hele span bid saam en dan is dit sulke tyd!”

Volgens Du Plessis het hy al harsingskudding opgedoen en ’n hele paar steke as gevolg van sy gevegte gekry, maar wanneer die adrenalien eers deur jou are bruis, voel jy nie rêrig die houe nie.

“Ek het al ʼn paar groot beserings opgedoen wat ek eers ná afloop van die gevegte begin voel het.”

Foto: Verskaf.

Tog wéét sy teenstanders wanneer hulle met hom te doen het. Die 25-jarige spog met ’n professionele rekord van 14 seges, waarvan vier weens uitklophoue was. Hy het nog net twee keer in sy loopbaan verloor.

Voordat hy as ’n gemengde gevegskunsatleet in die hok geklim het, was hy ’n baie suksesvolle skopbokser. Hy was onoorwonne in 33 gevegte; boonop het hy 30 keer sy teenstander uitgeslaan. Dit was in dié tydperk waar sy broer met sy slaappil-bynaam (’n verwysing na die slaapmiddel, Stilnox) vorendag gekom het.

En waar slegpraatsessies so onafskeidbaar van hokgevegte is as wat grondboontjiebotter van stroop is, dra dit net eintlik gewig wanneer jy die daad by die woord kan voeg.

Vra maar vir McGregor. En in dieselfde asem kan jy ook maar vir Du Plessis vra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae