Stillknocks maak weer UFC-litte los

Dricus du Plessis en Trevin Giles. Foto: Twitter.

Die Suid-Afrikaanse gemengde gevegskunsatleet Dricus “Stillknocks” du Plessis klim weer op 10 Julie in die hok wanneer hy teen Trevin Giles by UFC264 te staan kom.

En nadat ’n visum-rompslomp die vorige geveg teen die einste Giles in die wiele gery het, is alles in orde vir die vlug na Las Vegas.

“Ek is slaggereed om my land weer trots te maak. Moenie bekommer nie Suid-Afrika, dinge is onder beheer,” het hy op sosiale media gedeel.

Hy het verlede jaar amok in sy Ultimate Fighting Championship-buiging teen Brasilië se Markus Perez gemaak toe hy die geveg in die eerste ronde op Dana White se Fight Island in Abu Dhabi gewen het.

Hoewel die meer ervare Perez sterk begin het, het Du Plessis vinnig sy voete gevind en tot die aanval oorgegaan. Een van sy opstoppers het die Brasiliaan góéd getref en die gevegbeampte het kort daarna die aksie stopgesit.

Dit was ’n verstommende oorwinning vir die man wat in Pretoria aan sy vaardighede slyp en hy het ná afloop van die geveg ook sy stem oor plaasmoorde dik gemaak.

Hoewel hy ongetwyfeld teleurgesteld was toe die vorige Giles-kragmeting deur die mat geval het, het dit hom terselfdertyd ook oorgenoeg voorbereidingstyd gegun om nou sy stempel behoorlik in die UFC af te druk.

Sy oefenmaats sonder hom juis as die hardste werker in die gimnasium uit – Du Plessis is letterlik daardie ou wat eerste opdaag net om weer laaste te loop.

Conor McGregor ná sy geveg teen Dustin Poirier. Foto: Twitter.

Die hoofgeveg in Las Vegas sal Conor McGregor teen Dustin Poirier wees.

Die omstrede Ier het sy vorige geveg teen Poirier verloor nadat hy voorspel het dat hy die tweestryd binne 60 sekondes sou wen.

Die trots van Louisiana het egter ander gedagtes gehad en hy het in UFC257 sy teenstander eers op die agtervoet met ’n paar goed berekende skoppe gedwing, waarna hy sy vuiste soos een of ander pretpark-attraksie begin swaai het.

Een van sy houe het McGregor goed getref en die skeidsregter het die geveg kort daarna gestop.

“Ek is gelukkig met my vertoning, maar ek is nie eintlik verbaas daaroor nie. Die telling is nou gelykop. Dalk moet ons dit weer doen,” het Poirier ná afloop van die geveg gesê.

En nou gaan hulle dit inderdaad weer doen.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.