‘Stillknocks’ wil nóg teenstanders planke toe stuur

Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Dricus “Stillknocks” du Plessis se Ultimate Fighting Championship-loopbaan het op die beste moontlike manier afgeskop toe hy Sondag Brasilië se Markus Perez in die openingsronde van sy geveg op Fight Island katswink geslaan het.

“Eerstens gaan al die lof en eer aan my redder Jesus Christus wat my ongelooflik geseën het,” het die 26-jarige op sosiale media geskryf.

Hoewel die meer ervare Perez sterker in Abu Dhabi begin het, het Du Plessis vinnig sy voete gevind en tot die aanval oorgegaan. Een van sy opstoppers het die Brasiliaan goed getref en die gevegbeampte het kort daarna die aksie stopgesit.

Hy het voortgegaan om sy familie, vriende en vriendin te bedank, terwyl sy afrigterspan – Morné Visser, Scott MacIntosh en Hennie Engelbrecht – ook spesiale vermelding gekry het.

“Ek sou sonder jul hulp en ondersteuning nooit kon word wat ek nou is nie. ’n Klein span van Pretoria wat saam met die beste ter wêreld kan gesels.”

Die Suid-Afrikaner het verder gesê dat elke ondersteuner se boodskap – vóór en ná die geveg – die geleentheid net soveel meer spesiaal gemaak het.

“Ek kan nie wag vir die volgende geveg op reis na die titel nie. Hierdie was maar net die begin en nou weet die hele wêreld waarvan ons al vir ’n geruime tyd bewus is!”

Hy het ná die geveg ook sy stem oor plaasmoorde dik gemaak.

“Suid-Afrika gaan tans deur ’n moeilike tyd met plaasmoorde wat hoogty vier; mense word daagliks vermoor,” het Du Plessis gesê.

Hy het bygevoeg dat die internasionale gemeenskap dalk nie daarvan bewus is nie en dat hy sy platform wil gebruik om mense in te lig.

“Kom ons stop die plaasmoorde. Ek wil hê die wêreld moet sien wat in Suid-Afrika gebeur. Dit is só ’n mooi land en dit word deur dinge soos dié geruïneer. Kom ons staan saam as land om dit te oorwin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannelie ·

Mag hy net geseend wees in alles wat hy aanpak. Hy is n voorbeeld vir al die “knie buigers” in SA Sport.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.