Stilte kan ’n speler soos Djokovic help

Novak Djokovic. (AP Photo/Frank Franklin II)

Met spelers wat hulle links en regs weens die wêreldwye Covid-19-pandemie aan die Amerikaanse Ope onttrek, glo Martina Navratilova dat die toernooi steeds vir goeie tennis sal sorg.

“Ek dink ons kan tennis van hoogstaande gehalte verwag, maar terselfdertyd sal dit ook onvoorspelbaar wees,” sê sy.

Volgens die tennislegende sal dit interessant wees om te sien hoe fiks die spelers is.

“Hulle het ’n lang blaaskans gehad en niemand is wedstrydfiks nie, maar tog het hulle ’n uitstekende geleentheid gehad om hul vaardighede op te skerp. Daar is geen rede waarom die spelers nie nou top-fiks kan wees nie.”

Oefening is egter geen plaasvervanger vir ’n wedstrydsituasie nie en Navratilova meen dat die gebrek aan wedstryde ongetwyfeld ’n invloed op toernooi sal hê.

Die toernooi sal agter geslote deure gespeel word en hoewel party spelers die stilte sal verwelkom, is dit iets waaraan die meeste sterre gewoond sal moet raak.

“Dit maak die speelveld ongetwyfeld meer gelyk. Die top-spelers is gewoond om voor ’n klomp toeskouers te speel wat opgewonde saam gesels wanneer die krane op die baan oopgedraai word. Daarteenoor ervaar spelers wat laer op die ranglys is dalk net een keer per jaar so iets.”

“Novak Djokovic mag dalk bly wees daar is nie so baie toeskouers nie, maar vir iemand soos Serena Williams sal dit ’n uitdaging wees. Sy is mal daaroor as ondersteuners aan haar kant is.”

Volgens Navratilova is Djokovic die gunsteling om met die silwerware weg te stap.

“As die voorste speler ter wêreld is hy in elk geval die gunsteling. Maar in Roger Federer en Rafael Nadal se afwesigheid is sy kanse selfs beter om die toernooi te wen.”

Die Serwiër is nie altyd ’n gunsteling by toeskouers nie en hy is onlangs deur tennisliefhebbers oor sy rampspoedige Adria-toer gekap. Hy het saam met verskeie ander spelers en beamptes positief vir Covic-19 tydens dié toernooi getoets.

“Nou kan hy net op sy spel konsentreer en nie vies word omdat die toeskouers nie aan sy kant is nie. Ek stem saam met hom; hy verdien nie altyd hul vyandigheid nie.”

Hy is op die baan vir sy seer nek behandel. (AP Photo/Frank Franklin II)

Djokovic sukkel tans met ’n seer nek, maar hy het steeds na die volgende ronde van die Western & Southern Ope deurgedring toe hy Ricardas Berankis met 7 – 6 en 6 – 4 geklop het.

Die Amerikaanse Ope begin op 31 Augustus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.