Stings en Jaguars storm voort, kampioen soek nog eerste oorwinning

Die Southern Stings is na die tweede naweek van die Netbal-premierliga nog onoorwonne nadat hulle Sondag die KZN Kingdom Stars met 60-23 geklop het.

Ondanks die groot punteverskil het die Kingdom Stars heelwat omkeerballe gewen maar die doelskieters was nie op hulle beste nie. Die uitstekende verdediging van die Stings het sake vir die Kingdom Stars baie moeilik gemaak.

Die Stings het Saterdag ook die verdedigende kampioen van die Vrystaat, die Crinums, met 44-35 geklop. Die Crinums het dus hulle eerste drie wedstryde in die toernooi verloor.

♦  Die Limpopo Baobabs het vir die eerste keer in sewe wedstryde daarin geslaag om die Diamonds van die Noord-Kaap ʼn les te leer. Die Baobabs was rustyd reeds met 26-7 voor en het uiteindelik die wedstryd met 54-20 gewen.

Die Baobabs het dus twee oorwinnings en ʼn gelykop-wedstryd op hulle kerfstok. In ag genome dat hulle in 2016 heel laaste in die toernooi geëindig het, is die Baobabs se vertoning ʼn opwindende verrassing.

Die nuwe afrigter, Dumisani Chauke, was baie tevrede met haar span se vertoning Sondag na die teleurstelling van Saterdag se gelykop-beslissing teen die Kingdom Stars nadat hulle vyf minute voor die einde nog met ses doele voor was.

♦  Gauteng-Noord  se Jaguars het Saterdag die Diamonds heeltemal oorrompel en die telling van 81-19 is die grootste punteverskil nóg sedert die begin van die BFNPL. Die Jaguars is ook tot dusver onoorwonne.

♦  Die Oos-Kaap se Aloes het in ʼn taai wedstryd teen Noord-Wes se Flames tot agt minute voor die eindfluitjie deurgaans voorgeloop. Die Flames het die wedstryd op die nippertjie met 38-33 ingepalm.

Die toernooi skuif nou vir die volgende drie weke na die Belhar Sportsentrum in Kaapstad toe waarna Bloemfontein aan die beurt kom.

Volgende naweek se bepalings –

Vrydag 5 Mei
18:00 – Limpopo Baobabs teen Gauteng se Golden Fireballs
20:00 – Noord-Wes se Flames teen Gauteng Jaguars
Saterdag 6 Mei
12:00 – Oos-Kaap se Aloes teen Wes-Kaap se Southern Stings
14:00 – Limpopo Baobabs teen Gauteng Jaguars
16:00 – Noord-Wes se Flames teen Mpumalanga Sunbirds
18:00 – Vrystaat se Crinums teen KZN Kingdom Stars
Sondag 7 Mei
10:30 – Noord-Kaap se Diamonds teen Gauteng se Golden Fireballs
12:30 – Oos-Kaap se Aloes teen Vrystaat se Crinums

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.