Stof, sweet en ’n spesiale trui

Pieter du Toit en Philip Buys. Foto: Verskaf.

Die Absa Cape Epic is ongetwyfeld een van die hoogtepunte op die internasionale bergfietskalender en deelnemers moet hul storie ken net om al die skofte te voltooi; dan praat ’n mens nie eens van ’n podiumplek of ’n spesiale trui nie.

Gelukkig is daar ’n paar hardebaard fietsryers in Suid-Afrika en ná ’n hele paar moordende skofte het Pieter du Toit en Philip Buys die rooi trui gedra as die beste span uit Afrika. Hulle het ook vanjaar se Cape Epic in die algehele sesde plek afgesluit.

Die twee PYGA Euro Steel-ryers is die perfekte kombinasie waarvoor slegs die opwinding van jong talent en die kalm invloed van ervaring kan sorg.

Dit was die 22-jarige Du Toit se derde Epic-probeerslag, terwyl Buys al nege keer die Kaapse landskap getem het. Daarbenewens was hy ook ’n lid van Suid-Afrika se Olimpiese sending na Londen in 2012 waar hy 35ste in sy item geëindig het.

Foto: Verskaf.

’n Vinnige soektog op Google wys dat die 33-jarige Buys ook al vier keer (2012 tot 2016) ’n Afrika-kampioen was.

Volgens Ruan Lochner (spanbestuurder) moet vanjaar se spogvertoning veral baie vir Du Toit beteken – hy was immers nog in die laerskool toe Buys sy eerste Epic in 2009 voltooi het.

“Dit beteken baie vir ’n jong ryer soos Piet om met van die beste bergfietsryers ter wêreld skouers te skuur,” het Lochner gesê.

Bergfietssterre soos Switserland se Urs Huber en Frankryk se Jordan Sarrou was almal deel van die aksie.

Maar ’n opkomende sportster leer ook baie wanneer hy die bul by die horings pak en Du Toit het gewys dat hy oor die nodige deursettingsvermoë beskik om nog baie spesiale truie in sy loopbaan te dra.

Hy het tydens een van sy skofte geval en sy fiets se stuurstang is beskadig. Hy kon egter fietse met Gert Heyns (ook ’n PYGA Euro Steel-spanlid) ruil en hy het die skof voltooi.

Foto: Verskaf.

Dit was die eerste Cape Epic-wedren sedert die wêreldwye Covid-19-pandemie ’n stokkie voor baie internasionale sportbyeenkomste gesteek het.

“Nodeloos om te sê was daar heelwat meer regulasies van toepassing, maar die organiseerders het dit baie goed hanteer. Deelnemers is daagliks vir moontlike simptome gemonitor terwyl hulle ook getoets is.”

Volgende jaar se Cape Epic begin op 20 Maart.

En volgens Lochner sal daar ná ’n kort rukkie se rus weer skouer aan die wiel vir dié Kaapse avontuur gesit word.

  • Wenners:
  1. NinetyOne-songo-Specialized: Jordan Sarrou (Frankryk) en Matthew Beers (Suid-Afrika)
  2. Bulls 2: Martin Frey (Duitsland) en Siemon Stiebjahn (Duitsland)
  3. Buff Scott MTB: Hans Becking (Nederland) en José Dias (Portugal)
  4. Trek-Pirelli: Samuele Porro (Italië) en Fabian Rabensteiner (Italië)
  5. Buff Scott MTB 2: Enrique Vergara (Spanje) en Jose Ruiz (Spanje)
  6. PYGA Euro Steel 2: Pieter du Toit (Suid-Afrika) en Philip Buys (Suid-Afrika)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.