Storm, Schwartzman stuit Anderson

Gure weer het die wedstryd tussen Kevin Anderson en Diego Schwartzman gekniehalter. Foto: Al Bello/Getty Images/AFP

Die Amerikaanse Ope-tweestryd tussen Suid-Afrika se Kevin Anderson en Argentinië se Diego Schwartzman is vandag aanvanklik deur hewige reën gekniehalter.

Die tweede stel het skaars begin of toeskouers moes inderhaas na hul sambrele en reënjasse gryp; die Louis Armstrong-stadion se intrekbare dak kon nie verhoed dat ’n sterk wind die reën op die baan inblaas nie.

Soos wat oorsese joernaliste tereg sê: Dit het naderhand meer soos ’n vryslagitem as ’n tenniswedstryd begin lyk. Die Amerikaanse weerdiens het terselfdertyd ’n waarskuwing teen kitsvloede uitgereik.

Die kragmeting is na die Arthur Ashe-stadion verskuif waar Schwartzman uiteindelik met 7-6, 6-3 en 6-4 gewen het.

Die 35-jarige Anderson, wat in 2017 ’n finalis in New York was, het in die openingswedstryd 49 kishoue afgevuur. Hoewel hy vandag steeds 24 onbeantwoorde afslane afgestuur het, was Schwartzman opgewasse vir die taak.

Lloyd Harris moet later vandag teen Ernesto Escobedo speel nadat hy in die eerste ronde met Karen Kachanov afgereken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.