Strandvlugbal-duo na halfeindstryd van Afrikaspele

Foto is ter illustrasie. (Foto: Mark Schiefelbein, AP)

Suid-Afrika se Grant Goldschmidt en Leo Williams het vir die halfeindstryd van die strandvlugbal-toernooi by die Afrikaspele in Marokko gekwalifiseer.

Die twee het gister met Nigerië (21 – 18 en 21 – 12) in die kwarteindstryd afgereken. In hulle vorige wedstryde het hulle met Ghana, Soedan en Sierra Leone klaargespeel. Nou wag die gasheerland, sowel as die toernooi-gunsteling, vir hulle in die halfeindstryd.

“Ons voel heel goed oor ons voorbereidingswerk,” het Goldschmidt, wat Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro verteenwoordig het, gesê.

“Ons het die toernooi sterk afgeskop en lekker in Europa vir die Spele voorberei. Tog was ons kragmeting teen Nigerië geensins die perfekte wedstryd nie – ons was maar bietjie verroes omdat ons twee afdae gehad het waarin ons niks gedoen het nie.

“Tussendeur het ons ’n paar swak punte gehad, maar wanneer jy ’n span soos Nigerië 2 – 0 klop, moet jy baie tevrede wees met die uitslag.”

Hy het bygevoeg dat die twee se ervaring hulle gehelp het omdat hulle kalm in moeilike situasies gebly het.

Ten spyte van die feit dat hulle die 12de gekeurde dubbelspelpaar is, het hulle die halfeindstryd gehaal en gewys dat hulle ’n baie beter span is as wat die organiseerders aanvanklik gedink het.

Tog sal Marokko nie ’n maklike uitstappie wees nie.

“Hulle (Marokko) is goed voorbereid en hulle was onlangs in aksie by die Wêreldkampioenskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.