Suid-Afrika eindig 15de by Wêreldkampioenskap

Zane Waddell. (AP Photo/Lee Jin-man)

Suid-Afrika het – te danke aan sy vier medaljes in die swembad – 15de uit 193 lande by die Wêreldswemkampioenskap in Suid-Korea geëindig.

China (16) het die meeste goue medaljes gewen, terwyl die VSA (36) die meeste medaljes verower het.

Tatjana Schoenmaker het die eerste Suid-Afrikaanse vrou geword om ’n medalje by die Wêreldkampioenskap te verower toe sy tweede in die 200 m-borsslag klaargemaak het, terwyl Chad le Clos twee brons medaljes in sy vlinderslag-items losgeswem het.

Die span se groot held is egter Zane Waddell wat soos ’n onderstebo torpedo geswem toe hy die goue medalje in die 50 m-rugslagitem verower het. Die water het in alle rigtings gespat toe hy die eindstryd in ’n spogtyd van 24,43 s gewen het.

Suid-Afrika kon by die vorige kampioenskap net twee medaljes wen, maar het in die gesamentlike 14de plek geëindig.

Tog het Suid-Korea ook vir hope drama ín en lángs die swembad gesorg.

Australië se Shayna Jack is voor die aanvang van die kampioenskap weens “persoonlike redes” aan die Australiese span onttrek. Intussen het dit aan die lig gekom dat die 20-jarige Aussie op 26 Junie positief vir verbode middels getoets is.

Dit kom ten midde van ’n verbodemiddel-wolk wat bo China se Sun Yang hang. Hy is kwaai deur veral Australiese swemmers gekritiseer.

Dan is die brons medaljewenner in die 200 m-vlinderslagitem by die 2016 Olimpiese Spele, Hongarye se Tamas Kenderesi, in die sop omdat hy glo aan die agterstewe van ’n danseres by ’n Koreaanse nagklub gevat het.

Die danseres het ’n klag van seksuele teistering by die polisie ingedien.

  • Die volgende Wêreldkampioenskap word in 2021 in Japan aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
aj

Ek mis die Buthelezi’s, Maripane’s en Zwane’s onder die medalje wenners.

Seker oor daar nie vir medaljes ge-STEM of ge-toyi- toyi word nie.

Jy moet kan hard werk en PRESTEER vir ‘n medalje!

Niemand in SA sê iets daaroor nie.

Maar by die Spansporte word kwotas af forseer? …. hulle laat die spansporte aanhoudend verloor … soos die Vrotea kroeketspan!