Suid-Afrikaner maak golwe in branderplankreeks

Jordy Smith. Foto: Matt Dunbar/WSL.

Suid-Afrika se voorste branderplankryer, Jordy Smith, het pas derde by die Tahiti Pro Teahupo’o- branderplankkompetisie geëindig.

Die 31-jarige Suid-Afrikaner se bestendigheid vanjaar, saam met sy gesonde dosis talent, maak van hom ’n gevaarlike teenstander in die World Surfing League (WSL) se verskillende toernooie oor die hele wêreld. Sy sterk vertoning in Tahiti het gesorg dat hy ranglyspunte klim en hy is tans tweede op die WSL se punteleer.

Met branderplankry wat aanstaande jaar in Tokio ’n Olimpiese sportsoort is, is Smith se kanse baie goed om die eerste Suid-Afrikaner te word wat ’n branderplankrymedalje op die wêreld se grootste sportverhoog wen.

“Om as die eerste Suid-Afrikaner bekend te staan wat op sy branderplank by die Olimpiese Spele in aksie sal wees, sal vir my ’n groot eer wees. Ek werk tans kliphard om daardie doelwit te verwesenlik,” het Smith destyds gesê.

In Tahiti het hy weliswaar teen die uiteindelike kampioen, Australië se Owen Wright, in die halfeindstryd verloor, maar tog vroeër in die toernooi een van die wêreld se beste ryers ore aangesit.

Smith het vir Adriano de Souza, ’n voormalige WSL-kampioen, met 14,06–8,67 gewen.

  • Die top-branderplankryers in die WSL-reeks:
  1. Filipe Toledo (36 600 punte)
  2. Jordy Smith (35 450 punte)
  3. Kolohe Andino (35 175 punte)
  4. Gabriel Medina (34 695 punte)
  5. John John Florence (32 690 punte)
  6. Italo Ferreira (31 280 punte)
  7. Kanoa Igarashi (30 780 punte)
  8. Owen Wright (27 365 punte)
  9. Seth Moniz (22 885 punte)
  10. Kelly Slater (22 385 punte)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kol

Uiteindelik, dankie MM. Surfing kry sy tyd in die son. Mense moet Jordy volg. Die man surf al vir n baie lang ruk op die Dream Tour en eindig meeste van die tyd onder die top 10. n Durbaniet daarby.