‘Swaarste boksgeveg nóg’ in Maart

Hafthor Bjornsson en Eddie Hall sal op 19 Maart appels swaai. Foto: Twitter.

In boks se hardebaard-geskiedenis was daar al ’n hele paar ikoniese gevegte. Selfs mense wat niks van die sportsoort weet nie, moes al van die Rumble in the Jungle en die Thrilla in Manila gehoor het.

Bokspuriste trek normaalweg hul neuse vir vertoongevegte op, maar die wedywering tussen Eddie Hall en Hafthor Björnsson het nou tot ’n proteïenpoeier-spattende crescendo opgebou.

Die twee kragmanne pak mekaar op 19 Maart in Dubai en die kryt gaan omtrent onder hul gewig kreun.

Promotors bemark die skouspel as die “swaarste boksgeveg nóg” met Hall én Björnsson wat in hul sterkmandae hier by die 200 kg geweeg het.

Hoewel hulle deesdae ’n bietjie meer vaartbelyn is – Hall weeg nou byvoorbeeld slegs 158 kg – gaan dit steeds ’n groot storie wees.

Boonop het die twee ook nie veel ooghare vir mekaar nie en ondersteuners hoop dat die vuiste met mening geswaai sal word.

Björnsson, wat die rol van Ser Gregor “The Mountain” Clegane in die gewilde Game of Thrones-televisiereeks gespeel het, het in 2020 Hall se dooiegewigoptel-rekord met 1 kg verbeter.

Die Brit se rekord van 500 kg is in 2016 opgestel toe hy die eerste persoon in die geskiedenis geword het om 500 kg op te tel.

Björnsson het egter vir ’n kragtoer soos min gesorg toe hy 501 kg by die Thor’s Power Gym in Ysland van die vloer gelig het.

“Ek dink ek kon ’n swaarder gewig opgetel het, maar wat is die punt? Ek is baie tevrede met my poging,” het die Yslandse reus gesê.

Hall het egter onmiddellik teruggekap en aangevoer dat Björnsson se nuwe rekord glad nie tel nie – enigiemand kan mos 500 kg in sy plaaslike gimnasium optel, of hoe?

Die boksgeveg is ook kort daarna amptelik vasgemaak.

“Dit is nie omdat hy my rekord verbeter het of oor die bekgevegte nie. Ek het die uitdaging aanvaar omdat hy aanvoer dat ek gedurende die 2017 World Strongest Man-kompetisie gekul het,” het Hall destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.