Sweet spat by CrossFit-ope

Die VSA se Noah Ohlsen in aksie. Foto: Twitter.

Die wêreldwye CrossFit-ope het verlede week amptelik afgeskop en oudergewoonte het derduisende atlete die eerste oefensessie aangepak.

In 22.1, soos wat die storie bekendstaan, moes deelnemers vanuit ’n opstoot-posisie agteruit teen ’n muur uitklim (wall walks), ’n handgewig in een vloeiende beweging bo hul kop optel (dumbell snatches) en hul veerkrag met ’n paar spronge (box jump-overs) toets.

Hulle het 15 minute gehad om soveel as moontlik repetisies kaf te draf.

Ja, sal elke beterweterige en ongelowige Thomas mompel, ’n kwartier is net die helfte van een 7de Laan-episode; dit kan mos nie so erg wees nie?

Vyftien minute is egter oorgenoeg tyd om jou deksels moeg te maak, sal elke CrossFit-atleet antwoord.

En waar almal verlede jaar oor die verfoeilike wall walks gekla het, meen Morné Nel van CrossFit RedShack dat dié beweging nou die minste van jou probleme was.

“Daardie spronge was ongetwyfeld die moeilikste vir my. As jy ’n bietjie swaarder as die ander atlete is, kan dinge moeilik raak; jy het nie soveel veerkrag nie!” het Nel geskerts.

CrossFit RedShack se Morné Nel. Foto: Verskaf.

Die Pretorianer het goeie Carltonbeker-rugby vir Naka Bulle gespeel, maar toe hy destyds met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is, het dokters hom aangeraai om kontaksport te laat staan.

En dit is waar Nel se CrossFit-loopbaan begin het.

“Ek was moeg met 22.1, maar terselfdertyd ook nie té moeg nie. Ek dink uitgebrand is dalk die beste beskrywende woord. Verlede jaar se wall walks-sessie was baie erger gewees; hierdie was eintlik een van die lekkerder Ope-uitdagings.”

Die CrossFit-grootbase in die VSA maak binnekort die volgende oefenuitdaging bekend en net soos baie ander atlete meen Nel dat optrekke en stuwers (lekker Afrikaanse woord vir thrusters) op die spyskaart kan wees.

“Ek is egter elke keer verkeerd wanneer ek probeer raai wat op ons wag, maar ek hoop dat daar een of ander tyd optrekke sal wees.”

Wêreldwyd is Swede se Victor Ljungdal en die VSA se Mallory O’Brien die voorlopers, maar net soos die Curriebeker-kompetisie word die Ope nie ná net een ronde gewen nie: Daar moet nog baie water (en sweet) in die see loop.

Verlede jaar se Spele-kampioene – Justin Medeiros en Tia-Claire Toomey – is ook onder die toptienatlete, terwyl Jeffrey Adler en Hayley Adams binne trefafstand is.

Kealan Henry (30ste plek) is die voorste Suid-Afrikaner.

  • Ope-voorlopers:

Mans:

  1. Victor Ljungdal (Swede): 390 repetisies
  2. Cedric Lapointe (Kanada): 388 repetisies
  3. Saxon Panchik (VSA): 380 repetisies
  4. Driss Bouchiah (Marokko): 374 repetisies
  5. Justin Medeiros (VSA): 372 repetisies
  6. Dallin Pepper (VSA): 369 repetisies
  7. James Sprague (VSA): 369 repetisies
  8. Jacob Wheeler (Australië): 368 repetisies
  9. Jeffrey Adler (Kanada): 367 repetisies
  10. Matt Poulin (VSA): 364 repetisies.

Vroue:

  1. Mallory O’Brien (VSA): 392 repetisies
  2. Gabriela Migala (Pole): 390 repetisies
  3. Emma Carey (VSA): 381 repetisies
  4. Alex Raptis (VSA): 380 repetisies
  5. Leah Storen (Noorweë): 375 repetisies
  6. Tia-Claire Toomey (VSA): 375 repetisies
  7. Karin Freyova (Slowakye): 375 repetisies
  8. Kristin Holte (Noorweë): 372 repetisies
  9. Zahra Mozaffari (Iran): 371 repetisies
  10. Emily Rolfe (Kanada): 370 repetisies.
  • Suid-Afrika:

Mans:

  1. Kealan Henry: 359 repetisies
  2. Darren Zurnamer: 349 repetisies
  3. Jeandré Small: 339 repetisies
  4. Michael van Tonder: 336 repetisies.

Vroue:

  1. Mariska Smit: 333 repetisies
  2. Michelle Basnett, Michelle Merand en Lee Keyouz: 331 repetisies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.